Kom deel in die gees van Kersfees op Vrydag 14 November, met vanjaar se Carols with the Stars.
Voor die vertoning op die sportveld van die Laerskool Willem Postma sal daar van die middag 13:00 af ‘n buitelug-mark wees. Besoekers is welkom om ‘n draai op die mark te maak en sal met bewys van betaling vir toegang weer die aand toegang kan kry tot die vertoning. ‘n Verskeidenheid kosstalletjies is onder die uitstallers wat tot die aand daar beskikbaar gaan wees.
Die Carols with the Stars-vertoning begin om 19:00.

Die Afrikaanse sanger Refentse en sy orkes is vanjaar die gaskunstenaar op die geleentheid.
Almal word genooi om die geleentheid by te woon, met ‘n klein bedrag van R10 as toegangsgeld wat ‘n bydrae tot liefdadigheid gaan maak. Kaartmasjiene sal beskikbaar wees.
Ná Refentse se optrede gaan plaaslike sangers Cèzanne Yzelle en Mario Lategan die voorsang lei, met die saamsing van die bekendste Kersfeesliedjies in Afrikaans en Engels. Pick n Pay Preller Walk is vanjaar weer die hoofborg van hierdie gemeenskapsgeleentheid.
BloemNuus en Rosestad FM is die mediaborge.
Groot prys op die spel
‘n Splinternuwe Toyota Vitz 1.0 MT gaan op die Carols-geselligheid ‘n nuwe eienaar kry. Almal wat inkopies van ‘n minimum van R300 by Pick n Pay Preller Walk gedoen het en hulle ingeskryf het, staan die kans om te wen.
Klante het tot Donderdag 13 November om 20:00 tyd om inkopies by Pick n Pay Preller Walk te doen; hul inligting (naam en van, ID-nommer en selfoonnommer) agterop die strokie te skryf; en dit in die gemerkte houers by die winkel te gooi. Slegs finaliste wat die aand by Carols with the Stars teenwoordig is, staan die kans om die motor te wen.
Die trekking vind ná die musiekvertoning plaas. Vyf strokies sal getrek word, en die finaliste sal elk ‘n sleutel vir ‘n Toyota Vitz ontvang. Die sleutel wat die motor oopsluit en die motor aanskakel, wen dié splinternuwe motor.
Gesinne kan kampstoele of piekniekkomberse bring, en ‘n warm baadjie, en ‘n aand van lekker musiek en kuier saam met die kosbare mense in hul lewe geniet.





You must be logged in to post a comment.