Actors in the theatre piece Robin in the Hood
Prince Cyril (Christina Couvaras), Xander Steyn en Mario Lategan (Robbin in the Hood). Foto: Lientjie Mentz

Net toe jy dink jy het alles gesien, toe maak Robin in the Hood sy opwagting op die verhoog in die Rabbit-teater.

Xander Steyn van Xander Art Productions bring weer een van sy musikale komedies na die planke vir Bloemfonteiners se vermaak.

Hy is self die regisseur, skrywer en choreograaf en maak selfs sy verskyning as Hans Haas.

“Die karakters is almal amateurs en elkeen pas só mooi in sy of haar rol,” sê Steyn.

Kom kyk self hoe Prins Cyril (ja, beslis ‘n verwysing na ons eie president) vir King Donald (ja, Amerika se Donald) laat “mal” verklaar.

Dit omdat hy vir almal vertel hy het ‘n blou haas in die Shongololo-woud gewaar en dat hy met dié haas vriende is. Die hele nasie is in rep en roer omdat Cyril ewe skielik nou almal met belasting takel. Robin, sy flambojante ma, Maria, en sy twee broers kom dan in opstand teen Cyril. Hulle maak vriende met ‘n rooibaard Skotse mannetjie en sy vier Japanse Ninjas in die woud, waar dit blykbaar spook.

Vandaar begin die bekende storielyn waar hulle steel by die rykes en gee vir die armes.

Steyn is nou al 11 jaar lank op ‘n missie om teater weer toegangklik te maak vir die hele gesin.

Hy meen teater is terapie. “Dis ontsnapping van ons bedrywige lewe en ‘n viering van kultuur en laf-wees. Lag maak alles beter. En daar’s niks wat lewendige teater kan vervang nie.

“Ek is so dankbaar dat ek my passie vir die verhoog mag deel hier in die middel van Suid-Afrika met almal wat net ‘n kans wil waag om uit hulle comfort zone uit te klim.”

Prins Cyril, Kind Donald en Hans Haas kuier volgende week op die verhoog in Xander Steyn se musikale komedie Robin in the Hood.
Prince Cyril (Christina Couvaras), Xander Steyn en Mario Lategan (Robbin in the Hood). Foto: Lientjie Mentz

Robin in the Hood word op Saterdag 14 Junie om 16:00 en 19:00 deur laerskool-akteurs opgevoer. Kaartjies kos R60. Vrydag om 19:00 en Sondag om 16:00 is hoërskool-akteurs aan die beurt en kaartjies kos R80. Die hoofvertonings, waarin Hans Haas ook speel, is op Donderdag19 Junie om 19:00; op 20 Junie om 19:00 en op 21 Junie om 12:00, 15:00 en 18:00. Kaartjies hiervoor kos R120. Koop op rabbithouse.co.za. Kinders jonger as twee jaar kry gratis toegang, maar moet op ‘n ouer se skoot sit.

You need to be Logged In to leave a comment.