Siba Qoma, woelwater-flank van die Cheetahs, neem Saterdag (17/06) ná die Curriebeker-halfeindstryd teen die Bulle ’n foto saam met aanhangers Anita Jooste en HW Roberts. Beatrice Roberts het die foto geneem. Hulle is van Hoopstad. Foto: Charles Smith


Teen Dinsdag (20/06) was daar al 19 400 kaartjies verkoop vir Saterdag se Curriebekereindstryd tussen die Cheetahs en die Pumas in die Toyota-stadion.

Daar is groot opgewondenheid in die stad nadat die Vrystaters Saterdag (17/06) in dieselfde stadion die Bulle in die halfeindstryd van die Curriebeker-krag­meting oortuigend geklop het met ’n telling van 39 – 10 en deurgedring het na die eindstryd teen die Pumas in Bloemfontein.

Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê daar was waarskynlik meer druk op die spelers om in die halfeindstryd te wen as wat daar is vir die finale stryd.

“Dit is ’n beter span as verlede jaar. Hulle is sterker en fikser.”

Hy sê die Cheetahs se deelname in die Europese Uitdaag­beker-reeks het baie beteken en hulle het baie geleer.

Victor Sekekete sê die druk waaronder die spelers nou is om te wen, is goeie druk.

“Dit bring die beste in die spelers uit.”

Hy moedig mense in Bloemfontein aan om in hul menigtes die eindstryd by te woon.

“Dit beteken baie wanneer die stadion vol is.”

Vrydag is Oranje-dag in Bloemfontein. Die Cheetah-rugby-unie doen ’n beroep op Bloemfonteiners en Vrystaters om saam met hulle Cheetah-dag te vier en oranje aan te trek om hul ondersteuning vir die span te wys.

Die wedstryd teen die Pumas sal Saterdag om 16:00 begin.

Hekke open om 11:00.

Die hoofwedstryd word voorafgegaan deur ’n wedstryd van die vroue-Vrystaatspan teen die SWD-Arende om 12:00.

Ná die hoofwedstryd sing Jo Black op die Castle-verhoog.

Kaartjies vir hoofpaviljoen-sitplekke kos R200, en sitplekke op die oop paviljoen kos R150.

Toegang vir kinders kos R50.

Kaartjies is by die kaartjiekantoor beskikbaar tot Vrydag.

Kaartjies is ook beskikbaar op ticketpros.co.za, of deur die skakel op fscheetahs.co.za te volg.

Ondersteuners word aangemoedig om vroeg te kom om te verhoed dat hulle in lang rye wag vir toegang.

Dit is ’n

beter span as verlede jaar. Hulle is sterker en fikser.

– Hawies Fourie

You need to be Logged In to leave a comment.