Cindy Swanepoel as Hirr en Zak Hendrikz as Hiss in die skreeusnaakse toneelstuk 1. Foto: Nardus Engelbrecht


Wat gebeur wanneer twee mense so lief is vir mekaar dat hulle fisiek aan mekaar vasgroei?

Die absurde tragikomedie, 1, gee ’n kykie op wat dit beteken om “vir altyd, saam” te wees en of twee mense werklik een word.

Die komedie 1 word van 4 tot 7 Oktober op die Aardklop Kunstefees-verhoog in Potchefstroom vir die eerste keer opgevoer. Gehore gaan bekoor word deur karakters Hirr en Hiss soos die saamgevoegde paartjie besin oor die mite van nimmereindigende liefde en ewige geluk.

Henriëtta Gryffenberg het die verhoogstuk geskryf en Alby Michaels het die regie en dramaturgie behartig. Craig Morris het die egpaar se lyftaal-choreografeer.

Die toneelstuk sal na verwagting een van die oorspronklikste stukke op die Aardklop-feesverhoog wees – met kaartjies wat reeds in groot aanvraag is.

Cindy Swanepoel (Binnelanders se Analize Roux) en Zak Hendrikz (Sewende Laan se Werner Visagie) span kragte saam vir die satiriese stuk oor die ligter oomblikke in die huwelik; die nimmereindigende soeke na samehorigheid; en die vloek van die sielsgenoot-mite.

Hiss is ’n grapjas wat daarvan hou om speletjies te speel en om homself besig te hou met sy breiwerk. Hirr is ’n komplekse wese wat worstel met ingewikkelde, wiskundige berekeninge wat die wonder van die heelal en die mensdom in wetenskaplike formules uitpak. Hul komplekse verbintenisse bring komiese en intelligente oomblikke soos vrae oor liefde en samesyn na vore: “Is ware liefde vir ewig of is dit ’n vervloekte mite? Is die soeke na vervulling werklik, en kan hierdie soeke ons tot waansin dryf? Of, is dit samesyn wat ons mal maak?”

1 is ’n kragtoer-stuk wat albei Swanepoel en Hendrikz se talent as komiese en fisieke akteurs ten toon stel. Die paar werk al jare saam en hul samespel is wonderlik aanvullend, want hulle lewer kragtige, snydende dialoog tussen skreeusnaakse komedie.

Michaels sê dat die idee, of konvensie, van ’n egpaar wat soos ’n siamese tweeling op die verhoog te laat vassit, spook al jare lank by hom.

“Ek kon egter nooit die hak vind wat die kyker sou intrek en gevange hou of die retoriese logika formuleer wat ’n gehoor betrokke sou hou vir die lengte van só ’n teaterstuk nie.

“Gelukkig het die heelal vir Henriëtta oor my pad gestuur en haar briljante teks het die perfekte “hoekom” verskaf. Sy het die narratief en karakters meesterlik geskep, wat terselfdertyd ook die wonderlike essensie van Zak en Cindy as kunstenaars perfek kon uitlig. Die intimiteit, die uitdaging, die absolute vertroue van die hele kreatiewe span is een van daardie seldsame oomblikke in die lewe wat jou in verwondering laat – dankbaar nie vir wat jy weet nie, maar vir die wat met jou visie assosieer.”

Die span agter die produksie 1 sluit in Nadine Minnaar met stelontwerp, Nerine Pienaar met kostuumontwerp, Oliver Hauser met beligtingsontwerp, Coenraad Rall wat die klanklandskappe vir die stuk geskep het en Rhys Gorden se grafiese ontwerp. Die Aardklop Kunstefees vind van 3 tot 8 Oktober plaas.

Kaartjies is op die webwerf Ticketpro.co.za beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.