Een van Mangaung-brandweer en reddingsdienste se voertuie wat Dinsdag tydens die stadsrede by die Mangaung- binnenshuise sportsentrum uitgestal is. Credit: Lientjie Mentz

Hoewel daar uit talle oorde lof opklink vir die werk wat die Mangaung-brandweer en reddingsdienste in die stad doen, is daar groot kommer oor dié afdeling se kapasiteit.

DA-raadslid André Snyman het op die spesiale openbare vergadering om die begroting en tariewe van Mangaung-metro op 27 Mei in die Mangaung- binnenshuise sportsentrum goed te keur, gesê dié helde moet geluk gewens word. “Dié helde van die gemeenskap het die afgelope drie maande meer as 30 lewens gered.”

Tydens die afgelope geldjaar was daar baie brandverwante insidente wat die werk van Mangaung-metro se brandweerdienste in die kollig geplaas het.

Die uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, het tydens sy stadsrede gesê die reaksietyd op brande by die Nasionale Distrikshospitaal, De Brug-weermagterrein, Kopano Nokeng-konferensiesentrum, Black Mountain-hotel en Twayelane Fourways in Botshabelo was aanvaarbaar.
Nthatisi sê die brandweer in samewerking met Working on Fire en brandbestrydingsverenigings het die afgelope jaar 903 veldbrande oor 66 249 ha geblus.

Braam Vorster van die VF Plus het op die vergadering gesê die veldbrandseisoen begin vroeg in Julie. “Die VF Plus is van mening dat daar onmidellik aandag gegee moet word om die brandweer se gereedheid te bevorder. Die kommerwekkende toename in brandverwante voorvalle in die metro het die rooi ligte laat flikker.”

Vorster sê die VF Plus het ‘n skrywe aan die burgemeester en stadsbestuurder, Sello More, en die bestuurder van die departement van openbare veiligheid en sekuriteit, Israel Kgamanyane, gestuur om te versoek dat die Mangaung-metro se brandweerdepartement ten volle toegerus en operasioneel is.

Mangaung het slegs twee watertenkwaens – een in Botshabelo wat diens doen as brandweerwa en die ander wat vir onderhoudwerk gebruik word. Daar is geen toegewysde brandweerwa vir residensiële brande nie

“Die Mangaung-brandweerdepartement is ook verantwoordelik vir take wat veel verder as die stadsgrense strek, insluitend die reaksie op padongelukke oor ‘n 100-kilometer-strook langs die N1 en noodsituasies by die Perseus-substasie in Dealesville. Dié substasie is ʼn sleutelpunt en belangrike verbinding in die netwerk in Suid-Afrika se nasionale kragnetwerk.”

In ‘n nuusverklaring wat die DA verlede week uitgereik het, sê Mamotse Njiva-Lebajoa dat net vier van die stad se sewe brandweerstasies operasioneel is. Dit is die hoofbrandweerstasie in Pres. Brandstraat, die stasies in Erlichpark, Botshabelo en Thaba Nchu. Die Rodenbeckstasie word nou gratis deur Working on Fire gebruik.

Nthatisi het in sy begrotingsrede gesê die stad benodig R30,2 miljoen om die Rodenbeck-brandweerstasie weer operasioneel te kry.
Njiva-Lebajoa en Snyman het verlede week ‘n oorsigbesoek van die stad se brandweergeriewe gedoen en sê hulle verwag dat die metro moet ingryp omdat die stad nie behoorlik voorbereid is op noodgevalle nie.

“Mangaung het slegs twee watertenkwaens – een in Botshabelo wat diens doen as brandweerwa en die ander wat vir onderhoudwerk gebruik word. Daar is geen toegewysde brandweerwa vir residensiële brande nie.”

Njiva-Lebajoa sê die brandweerstasies se personeel is te min en ly tot druk in tye van krisis. “In stede van die standaard van dertig brandweerpersoneel per skof, het die metro se brandweerstasies een offisier en vyf brandweerpersoneel aan diens. Dit lei tot uitermatige oortydwerk wat druk op personeel plaas.”

Sy sê Mangaung het slegs een brandveiligheidsvoertuig en vyf veiligheidsinspekteurs en twee instrukteurs vir openbare bewusmaking.
Snyman het Dinsdag gesê die DA gaan ‘n memorandum aan die metro oorhandig waarin hulle versoek dat brandweerdienste behoorlik befonds word.

You need to be Logged In to leave a comment.