Kommer smeul ná brand

Hospitaalbeddens wat oral op die parkeerterrein rondstaan, was Maandag die stille getuies van die drama wat hom Sondag in die Nasionale Distrikshospitaal afge­speel het toe pasiënte inderhaas ontruim is nadat ’n brand hier uitgebreek het.


Hospitaalbeddens wat oral op die parkeerterrein rondstaan, was Maandag die stille getuies van die drama wat hom Sondag in die Nasionale Distrikshospitaal afge­speel het toe pasiënte inderhaas ontruim is nadat ’n brand hier uitgebreek het.

Pasiënte in saal 3 (pediatrie), saal 5 (gemengde saal) en saal 7 (mansaal) is na veiligheid gehelp toe ’n brand Sondag omstreeks 15:20 uitgebreek het en die pasiënte deur rook oorval is.

Mondli Mvambi, woordvoerder vir die Vrystaatse departement van gesondheid, sê die rook het vinnig deur die hospitaal versprei.

“Die hospitaal se noodplan is in werking gestel en 83 pasiënte en die personeel is flink ontruim.”

Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro se brandweer en nooddienste, sê die brandweer en polisie se forensiese afdelings het ondersoek ingestel en sal ’n verslag saamstel wat aan die departement oorhandig sal word.

Hy het bevestig dat die brand buite die hospitaal, by bome, ontstaan het.

David Mosoeu, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die Vrystaatse Wetgewer, het die brandweer en nooddienste vir hul vinnige optrede geprys.

“Ons het egter baie vrae oor dié voorval en of dit verhoed kon gewees het.”

Mosoeu sê die veiligheid van inwoners van die Vrystaat moet vir die regering ’n voorkeursaak wees.

“Ons is bekommerd oor die veiligheid van pasiënte in staatsgesondheidsinstellings ná die onverwagte brand,” het hy in ’n verklaring gesê.

Die skade en koste om die gebou van die oudste gesondheidsinstelling in die Vrystaat te herstel, moet nog bepaal word.

Ná besoeke van die LUR vir gesondheid, Monyatso Mahlatsi en die afdelingshoof, Godfrey Mahlatsi, aan die hospitaal Maandag om die voorval te bespreek, het die departement gesê dat hulle tevrede is met hoe die situasie hanteer is.

Mvambi sê niemand is in die voorval beseer nie en die pasiënte is na verskeie hospitale in die metro oorgeplaas. Dit sluit in 3 Militêre Hospitaal in Tempe, die Pelonomi Tersiêre Hospitaal, die Dr. J.S. Moroka-hospitaal in Thaba Nchu, die Universitas- Akademiese Hospitaal, die Botshabelo-distrikshospitaal, die Mangaung Community Health Centre in Rocklands en die Onklogie-sentrum.

Premier Maqueen Letsoha-Mathae en haar man, die speaker van die Mangaung-metro, Lawrence Mathae, was Sondagaand op die toneel.

Hulle het nooddienste bedank vir hul hulp om die pasiënte na veiligheid te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.