Benewens herlewingslandboukundiges en boere wat hul wysheid gaan deel tydens Landbouweekbladse Herlewingslandboukonferensie, kan konferensiegangers luister na die storie van dr. Imtiaz Sooliman.
Dié uitsonderlike hoof van die noodorganisasie Gift of the Givers sal op die Reitz-konferensie as gasspreker optree.
Die konferensie vind vanjaar van 13 tot 14 Maart op die Reitz-skouterrein plaas. Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, glo dat Sooliman enigeen wat na hom luister, sal inspireer en hul uitkyk op die lewe vir altyd sal verander.
“Hy het die afgelope drie dekades al honderde mense se lewe gered, internasionale krisisse help oplos en hand opgesteek om sy medemens te help,” sê Burgess.
“Ons sien uit dat hy nie net boere inspireer nie, maar ook hoop bring. Sooliman glo daar wag ’n goue era vir Suid-Afrika, indien haar mense kan besef die land behoort aan hulle, en nie politici nie.”
Boere kan uitsien na ’n vol program met Amerikaanse herlewingsboer Rick Clark as hoofspreker.
Clark is veral bekend in Amerika om sy sukses met die besnoeiing van insetkoste; ’n gevoelige onderwerp in Suid-Afrika se landbousektor ná die styging in plaasinsette in 2022.
Hy boer in Indiana met mielies, sojabone, koring en lusern op 2 833 ha, en lewer voerbestanddele aan die suiwelreus Danone Noord-Amerika.
Die konferensie word in vennootskap met die Riemland-studiegroep by Reitz aangebied.
Clark is een van die internasionale boere wat lede van die studiegroep die graagste daar wou hê.
“Rick is ’n boer soos ons en hy doen dit ook self, soos ons,” sê Danie Slabbert, voorsitter.
“Dit is regtig iemand by wie ons iets kan leer.”
Kundiges soos Frits van Oudtshoorn, ’n graskenner, insekkenner prof. Johnnie van den Berg, GP Schoeman van Agrisol, en die boere Cobus van Coller, Pikkie Uys, Hans van Rooyen en Hentie Helm gaan ook die konferensies toespreek.
Kaartjies kos R1 850 per persoon (alle etes ingesluit) en is op quicket.co.za beskikbaar. Dit sluit ook gratis toegang van 12 maande tot Landbou.com, ter waarde van R1 800, in.
Die Reitz-konferensie is een van drie wat Landbouweekbladaanbied om boere te help om saam met die natuur te werk. Die ander twee konferensies is op 9 Maart in Somerset-Wes en op 16 Maart in Ottosdal.
Belanghebbendes kan hul navrae aan events@landbou.com rig.
Landbouweekblad
se drie konferensies word aangebied in samewerking met die Riemland-studiegroep, die Ottosdal-geenbewerkingsklub, Sentraal24, Soil Health Support Centre, ASSET Research en die Mielietrust.
- Twee gelukkige lesers van Bloemnuuskan elk ’n kaartjie wen om die Reitz-konferensie op 13 tot 14 Maart by te woon. Besoek Bloemnuusse Facebook-blad vir meer inligting.