Sonder boere kan daar nie ’n Suid-Afrika wees nie, maar sonder ’n gemeenskap kan daar ook geen boere wees nie.
Die geleidelike agteruitgang van landelike Suid-Afrika getuig van die breër maatskaplike probleme in Suid-Afrika. Van onderwys tot gesondheid; paaie tot watervoorsiening; maatskaplike samehorigheid tot indiensneming – as dit ’n Suid-Afrikaanse probleem is, is dit waarskynlik erger in die landelike gebiede van ons uitgestrekte platteland.
Dit word verder aangeblaas deur swak munisipale bestuur en ’n skrikwekkende tekort aan vaardighede. Selektiewe wetstoepassing vererger ’n reeds benarde situasie.
Hoe maak ons seker dat plattelandse gemeenskappe nie net oorleef nie, maar ook floreer?
“As ’n publikasie wat al vir meer as ’n eeu landelike Suid-Afrika dien, het Landbouweekblad nie net ’n verantwoordelikheid om landelike Suid-Afrika te help herleef nie, maar ken ons ook die mense wat reeds ’n verskil maak deur beter, ryker en meer inklusiewe landelike gemeenskappe op te bou,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.
“Suid-Afrika se verval kan eenvoudig nie langer geduld of bekostig word nie. Dit is waarom ons op 20 en 21 Februarie 2024 die konferensie met die tema ‘Oplossings vir Suid-Afrika se platteland’ op Nampo-park, Bothaville, aanbied.”
Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, hoofborg van die konferensie, meen die probleme wat die Suid-Afrikaanse platteland in die gesig staar, is nie nuut nie.
“As ons nie daadwerklik optree om oplossings vir die platteland te bedink nie, gaan niks verander nie. Die landbou is en bly die lewensaar van die platteland en Senwes as belanghebbende in die sektor het ’n wesenlike taak.
“Ons wil met dié konferensie belanghebbendes uit alle oorde betrek – van besighede, plaaslike drukgroepe en die burgerlike samelewing – om ’n ommekeer teweeg te bring,” sê hy.
Gegrond op die formaat van Landbouweekblad se hoogs suksesvolle Bela-Bela-grondberaad in 2018, sal die suksesvolste gevallestudies van waar gewone Suid-Afrikaners besig is om beter gemeenskappe op te bou, ten toon gestel word.
“Ons hoop om deur hierdie platform groot momentum vir samewerking en vennootskappe te skep. Die landbou, as ’n reservoir van groot bestuurs- en tegniese vaardighede, sowel as die vermoë om as ’n ekonomiese vermenigvuldiger op te tree, speel dikwels ’n deurslaggewende rol om die gety van landelike verval te keer,” sê Chris.
“Alle inhoud van die konferensie sal in ’n enkele, interaktiewe, digitale knooppunt saamgevat word. Laasgenoemde sal in sinergie werk met ’n stuurgroep van ‘oudstes’ om te verseker ons behou momentum.”
Sien lys van sprekers heel onder aangeheg.
“Deur meer as 60 sleuteldeelnemers saam te bring en suksesverhale van opheffing en hoop te deel, wil ons Suid-Afrikaners inspireer om die bul by die horings te pak en seker te maak landelike Suid-Afrika oorleef nie net nie, maar floreer.”
Datum: 20 en 21 Februarie 2024
Venue: Nampo-park, Bothaville
Kaartjies: R1 750 (BTW ingesluit, dié bedrag sluit in die konferensie, etes en verversings op albei dae, ’n aandgeselligheid op die eerste aand, en alle inligtingsessies). ’n Kaartjie sluit ook 12 maande se toegang tot Landbou.com ter waarde van R1 800 in.
Kaartjies is beskikbaar op Quicket by https://qkt.io/Platteland.
Besighede/instansies kan ook ’n tafel vir tien mense koop teen R15 000. Stuur ’n e-pos na events@landbou.com indien jy belangstel.











