Die hekke van die Koningspark-roostuin in Bloemfontein is Saterdag weer vir die publiek oopgegooi nadat meer as R1 miljoen bestee is om dié park na sy eertydse glorie te herstel.
Die grasperke is nou kort en groen, die nuut-aangeplante rose groei mooi, en Saterdag het daar water in die sierlike spuitfontein geplas.
Dié eens pragtige park in Bloemfontein is die afgelope paar maande met groot moeite en teen hoë koste opgeknap.
Johan Snyman van OurSA sê hulle wil nie net Koningspark-roostuin en die park oorkant Koningsweg opknap nie, maar eindelik die park tot die eertydse dieretuin uitbrei.
Met die hulp van die Mangaung-metro en die niewinsgewende organisasie Anchor of Hope is daar sedert Junie verlede jaar hard gewerk om infrastruktuur te herstel en die tuine en fonteine op te knap.
Boeta Swart van Anchor op Hope sê hulle het ingeskryf vir die TV-program Lottoland help ’n dorp. Hulle moes vooraf ’n deel van die werk doen.
Die span van Lottoland het Bloemfontein later die jaar besoek en R487 000 vir die projek geskenk. Die program is in Desember op kykNET uitgesaai.
Sedertdien het daar baie gebeur.
Swart sê hulle het met die skenking toerusting en sowat 300 roosplante gekoop en die fonteine in Koningspark en die Rosepark, asook die braaigeriewe op die Loch Logan-eiland, is opgeknap.
Die munisipaliteit het intussen die spreiligte herstel en Raubex het die staalheinings om die park en dakke van die braai-afdakke geverf.
Intussen het Rudie van der Merwe van R&S Plumbing, voorsitter van die Loodgietersvereniging van Suid-Afrika (Iopsa), en Pieter de Kock, ondervoorsitter en eienaar van PDK Plumbing, hul dienste beskikbaar gestel en met materiaal wat Berlesell geskenk het die badkamers, wat deur vandalisme verwoes is, weer toegerus.
Colin Povall van Drain Busters en ook ’n lid van IOPSA, het die riool hier kom skoonspuit.
Danksy al die werk wat die afgelope tyd hier gedoen is en die insette van borge en Anchor of Hope wat hul inkomste uit tuinwerk oor die stad heen in die parke teruggeploeg het, kon sowat 70 mense – hoofsaaklik gesinne van oud tot jonk – die naweek op die Loch Logan-eiland kuier en die braaigeriewe gebruik.
Snyman sê benewens die mense wat hier piekniek gehou het, het baie mense Saterdag net deur die park gestap en die werk van die afgelope maande kom besigtig.
“OurSA se mense is in gesprek met die gemeenskap en munisipaliteit om Anchor of Hope te ondersteun om die parke te onderhou. Ons hoop regtig dat ons die park elke Saterdag aan die publiek kan oopstel.”
Hy sê die Cheetah-rugbyunie, die Vrystaat-krieketunie, asook ondernemings soos Stamboek wat in die omgewing van die park is, is reeds betrokke met geldelike bydrae om die park te onderhou.
“Ons hoop al die woonbuurtverenigings en nog meer ondernemings kan met ons hande vat om die park in stand te hou sodat dit tot voordeel van die gemeenskap gebruik kan word,” sê Snyman.
Saterdag was daar ’n veiligheidspan om toe te sien dat besoekers veilig was.
Snyman sê die gemeenskap se insette en steun is nodig om die volhoubaarheid van die projek te verseker.
“Ons wil ook met veiligheidsondernemings saamwerk om 24 uur-sekuriteit hier te kry om die bates te beskerm.
“Dit is belangrik dat gesinne en vriende in veiligheid hier kan kuier.”
Hy sê die ideaal is dat die park elke Saterdag en ook tydens groot sportgeleenthede soos rugby, krieket, tennis en atletiek sal oop wees sodat mense daar kan kom saamkuier.