Bekende Afrikaanse sanger Jannie du Toit bied sedert die Covid-19-pandemie gereeld konserte aan om geld in te samel vir mense met gestremdhede.

Op 30 Mei bied Du Toit in samwerking met talle Bloemfonteinse musici ‘n konsert aan om die Jean Webber-huis en die Vrystaatse Vereniging vir mense met getremdhede (APD-Vrystaat) te ondersteun.

Jean Webber is al meer as 40 jaar ‘n toevlugsoord vir individue met ernstige gestremdhede. Die huis dien as veilige hawe en bevorder die waardigheid en help hulle om so selfversorgend moontlik te wees. Inwoners sluit mense in wat kwadrupleë is, beroerte-oorlewendes en individue met serebrale gestremdheid, veelvuldige sklerose en mense met ernstige gestremdhede in.

By ‘n vorige geleenheid is Jannie du Toit saam met personeel en inwoners van die Jean Webber-huis. Hulle is van links, voor: Sandra Goosen (personeel), Leon van Wyk (Jean Webber Huis-inwoner), Therina Wentzel (nasionale direkteur), Nthabiseng Molongoana (provinsiale direkteur); agter: Bull Tlali (personeel), Elaine Mondzinger (personeel), Jackie Malan (personeel), Martha Nketsi (versorger), Du Toit en Louise Barnescone (personeel). Foto: Verskaf

Du Toit sê hy hoop om ‘n bydra te lewer en die verliese uit te wis wat sedert die pandemie gely is en om Loslitdag weer so vinnig moontlik terug te kry by die groot insamelingsveldtog wat dit voor 2020 was.

Du Toit gaan saam met Anton Esterhuyse, wat die land aan die praat gehad het met sy 100 liedjies vir 100 jaar in 100 dae-projek, ‘n besonderse vertoning hou. Ander kunstenaars sluit in Ella Kotze, wat al saam met Du Toit op die verhoog was. Daar is ook Martinette Spoelstra, die tjellis Kornelia von Eschwege en Annelie du Plessis-Hoberg (op die fluit) wat uit Johannesburg kom vir die konsert.

Vir die eerste keer sedert Du Toit met sy inisiatief begin het, gaan ‘n kunstenaar met ‘n gestremdheid ook op die verhoog saam met hom wees. Riaan Naudé, ‘n blinde sanger van Bloemfontein, was deel van Anton se 100 liedjie-reeks. Naudé het ‘n besonderse verbintenis met Jean Webber, waar hy as jong man gebly het.

Die konsert begin op Vrydag 30 Mei om 18:00 in die NG kerk Pellissier. Kaartjies kos R210, en R180 vir pensionarisse.

Bespreek by Jackie Malan by jackie@ncpd.org.za, per WhatsApp op 082 490 6796 of skakel die kerkkantoor by 051 422 4010.

You need to be Logged In to leave a comment.