Konsert vol trefkrag

Dit is ’n geleentheid wat almal sal wil bywoon en niemand sal vergeet nie.


Dit is ’n geleentheid wat almal sal wil bywoon en niemand sal vergeet nie.

Só sê Danré Strydom oor Revelation, die eerste openbare konsert in die Odeionteater ná twee jaar.

Strydom, ’n klarinetspeler en houtblaasdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), sal saam met die Gautengse fluitspeler Handri Loots en pianis Lesley Mathews optree.

Die trio speel vier werke wat nie sommer in ander programme sal verskyn nie. Elke stuk het ’n bepaalde trefkrag en skoonheid, sê Strydom.

Om soveel mense moontlik na die “openingskonsert” te trek, gee die program ook liefhebbers van dans, visuele kuns en woordkuns ’n rede om die konsert by te woon.

Die geleentheid begin met ’n werk geïnspireer deur walvisse en die see, “Deep Blue”, vir fluit en klavier, waarin die geluide van walvisse nageboots word. Die komponis is die Britse fluitspeler Ian Clarke.

Die tweede werk, “Portraits of Langston”, word beskryf as ’n kragtoer deur die Amerikaanse komponis en fluitspeler Valerie Coleman. Sy het die suite gegrond op verse waarin die Afro-Amerikaner Langston Hughes sy droom verwoord om Harlem vir Europa te verruil.

’n Verteller sal die verse voorlees, waarna die trio die ooreenstemmende beweging sal uitvoer.

Gegewe die afsterwe van die geliefde jazzmeester en komponis Noel Stockton op 20 Januarie het Strydom sy “Three Pieces for Clarinet and Piano” ingesluit.

Dit is in werklikheid drie bewegings, andante commodo, ’n wiegeliedtema in die andante tranquillo en ’n lewendige presto scherzando.

Revelation eindig op ’n skouspelagtige hoogtepunt met The Carmen Rhapsody deur Michael Webster, ’n Amerikaanse klarinetspeler, dirigent en dosent.

In sy verwerking van Bizet se opera­musiek vir klarinet, fluit en klavier voer die twee blaasinstrumente ’n virtuose “gesprek” met mekaar. Terselfdertyd word die belangrikste karakters verteenwoordig deur temas soos die “Habanera”, “Seguidilla”, die stiervegter se lied (“Toreador Song”) en die wulpse Carmen se sigeunerlied (“Gypsy Song”).

Dit is hier waar Liz Vorster haar verskyning sal maak en dansaanhangers regop sal laat sit. Dié kunsstudent aan die Universiteit van die Vrystaat sê sy gaan nie die sigeunermeisie Carmen uitbeeld nie – nee, sy gaan “die realiteite van die lewe in Carmen se omstandighede en in ons tyd” in dansbewegings weergee.

Ná dié laaste noot verskuif die fokus na die Odeion-portaal, waar kunswerke van Vorster te sien sal wees – abstrakte en realistiese olieskilderye, koper-etse en linodrukke.

  • Revelation vind vanaand (24/02) om 19:30 plaas. Kaartjies kos R140, maar pensioentrekkers en UV-personeel betaal R70. Kaartjies vir studente, leerlinge en blokbesprekings kos R50. Bespreek by phoenixpro.co.za.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.