Koorafrigters kan Isabella Eksteen in aksie sien

Koorafrigters en toeskouers is welkom om ’n werksessie deur Isabella Eksteen volgende naweek in Bloemfontein waar te neem.


Koorafrigters en toeskouers is welkom om ’n werksessie deur Isabella Eksteen volgende naweek in Bloemfontein waar te neem.

Sy is terug in Bloemfontein nadat sy in Januarie ’n intensiewe aanlyn werksessie vir Bloemfonteinse koordirigente aangebied het.

Danksy die positiewe terugvoer van koordirigente, is sy Vrydag 14 April en Saterdag 16 April terug vir werksessies met vier kore in Bloemfontein.

Die ope sessies is toeganklik vir enige koorleiers en sangers.

Eksteen het in 1999 haar BMus-graad in uitvoerende sang aan die San Francisco Musiekkonserwatorium (SFCM) in die VSA verwerf.

Tydens haar studiejare het sy in televisieproduksies in die VSA opgetree sowel as solo-uitvoerings gegee in Duitsland, Nederland, Australië en Suid-Afrika.

Sy het as solis saam met albei die Diablo-ballet Orkes sowel as die The San Francisco Classical Orchestra in ’n reeks uitvoerings van Mendelssohn se Midsummer night’s Dream opgetree.

Eksteen het die SFCM se konsertmusiekkompetisie in 1998 en 1999 gewen. Tydens haar studiejare in die VSA het sy meestersklasse van Barbara Bonney, Janet Bookspan, (Metropolitan Opera) Judith Kellock, sanglektor aan die Universiteit van Californië, Los Angeles (UCLA), sowel as by Dick Jones (Metropolitan Opera) ontvang.

Terug in Suid-Afrika het Eksteen as solis opgetree in verskeie konserte saam met die orkes en kore van die Universiteit van Pretoria (UP). Sy gee sedert 1999 sangonderrig aan individue en het sedert 2001 uitgebrei na stembou vir kore tydens ’n projek aangebied deur die kultuur-afdeling van die Finse Ambassade en die departement van onderwys. Sy het vir ’n dekade as ’n individuele stemdosent by die UP se musiekdepartement sowel as stembouer vir die Universiteitskoor die bekroonde Tuks Camerata gewerk.

Eksteen het die afgelope twee dekades as jurielid gedien op verskeie koor- en universiteitserenadekompetisies in en om Gauteng.

Sy bedryf ’n privaat sangateljee waar sy plaaslik sowel as aanlyn studente in die Europese Unie onderrig.

Die werksessies is op 14 April van 12:00 tot 14:00 by die Eunice Culture Room vir die Eunice Girls Choir; van 15:00 tot 16:00 vir die Bloemfontein Children’s Choir (BCC) by die NG kerk Bloemfontein-wes; en van 18:00 tot 19:00 vir die Alumni Voices-kamerkoor by die Odeion-konsertsaal.

Die werksessies Saterdag is van 09:00 tot 10:00 in die ML Spies-saal vir die Hoër Meisieskool Oranje, 10:10 tot 11:10 vir die BCC by die NG kerk Bloemfontein-wes en van 18:00 tot 20:00 in die skoolsaal van die Hoërskool Sentraal vir Sentraal se koor.

Toegang is R200 by die deur.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.