Die kort-kortverhale van sportskrywer Marnus Kok is verrassend ver verwyderd van die sportberigte wat hy elke dag vir Netwerk24 lewer.
Hy sê dit was veral tydens sy studie aan die Noordwes-Universiteit (Pukke), van 2013 tot 2016, dat hy baie van die stories in Op die kantlyn neergepen het.
In 2017 en 2018 het hy ’n meestersgraadkursus in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gevolg – en daarmee die verhale wat hy so deur die jare geskryf het, vir dié graad saamgevoeg tot ’n eenheid.
“Ek het daarna ’n paar uitgewers gekontak om te kyk of ek ’n kortverhaalbundel kon publiseer, maar daar was nie belangstelling nie,” sê Kok.
Hy het vroeër vanjaar besluit om ’n laaste poging aan te wend om die bundel te laat publiseer, en Naledi het binne ’n dag na hom toe teruggekom en laat weet dat hulle hierin belang stel.
Die verhale in die bundel is kort. Een daarvan is slegs een sin lank en die meeste nie veel langer as 150 woorde nie.
Dit gee die leser korreltjies pitkos – genoeg inligting om ’n situasie te skep, maar meestal met ’n oop einde sodat elkeen self ’n afleiding kan maak.
Die verhale is geskryf uit die oogpunt van ’n buitestander wat alledaagse gebeure en oomblikke uitwys – die hartseer, die vreugde, soms ’n klontjie ironie – en oor die algemeen menswees en drome wat nie verwesenlik word nie, vasvang.
Kok sê hy sal graag eendag weer iets wil skryf wat nie sy daaglikse werkspligte behels nie, maar dit sal iets heel anders as dié kortverhalebundel wees.
Charles Smith, nuusredakteur van Netwerk24 en Volksblad, praat op Vrydag 25 Oktober om 17:30 met Marnus oor Op die kantlyn in die Fichardtpark-biblioteek. Toegang is gratis, maar dit is noodsaaklik om bywoning vooraf te bevestig. Doen dit voor 23 Oktober by Kok deur hom by 076-520-4269 te bel of ’n e-pos na marnus.kok@gmail.com te stuur.
- Staan die kans om ’n kopie van Op die kantlyn te wen in BloemNuusse Facebook-kompetisie.
Om jou in te skryf, gaan na BloemNuusse Facebook-blad en skryf in die kommentaarveld by die inskrywing oor Op die kantlyn waarom jy graag dié boek wil wen.
Die wenner sal op Maandag 14 Oktober op BloemNuusse Facebook-blad aangekondig word.