Korting op erfbelasting kom jou dalk toe

Met die deurvoering van die nuutste erfbelastingkoerse is vasgestel dat die Mangaung-metro sommige eienaaars van hoewes om die stad met tot 400% meer belas.


Met die deurvoering van die nuutste erfbelastingkoerse is vasgestel dat die Mangaung-metro sommige eienaaars van hoewes om die stad met tot 400% meer belas.

Hoewes wat groter as 4 ha is en vir landboudoeleindes gebruik word, kan ’n 75% korting op erfbelasting toegestaan word.

David McKay, DA-raadslid, sê die metro het al verskeie rekeninge reggestel, maar talle eienaars van hoewegebiede is onbewus van die verkeerde berekenings.

Die nuwe tariewe waarvolgens munisipale belasting bereken word, het op 1 Julie in werking getree.

McKay sê die berekeninge word al baie jare verkeerd gedoen, maar eienaars sal moontlik terugwerkend slegs vir drie jaar vergoed word.

Volgens McKay geld die korting nie hoewes wat vir uitsluitlik residensiële of sake-doeleindes gebruik word nie.

Vir dié hoewes geld die erfbelasting (waardering x 0.9474), terwyl hoewes waarop landboubedrywighede beoefen word bereken word teen die waardering x 0.2369.

’n Lid van die Mangaung-belastingbetalersvereniging sê hy het ’n dispuut by die Mangaung-metro hieroor verklaar, en hy het binne 72 uur ’n nuwe rekening ontvang.

McKay raai inwoners wat aan die voorwaardes vir korting voldoen aan om ’n dispuut by die metro in kamer 121 van die Bram Fischergebou (Glaspaleis) te verklaar om hul rekenings te laat regstel.

“Die metro sal dan iemand aanstel om te gaan kyk of die hoewe aan die voorwaardes voldoen.”

Hy sê die korting is destyds toegestaan om landboubedrywighede rondom die stad te bevorder en kleinboere te help.

“Die misrekening van die erfbelasting kan egter ’n katastrofiese invloed op die inkomste van die Mangaung-metro en ook op die reeds patetiese dienslewering hê,” sê McKay.

“Hierdie berekeningsfout kom te midde van ’n defekte begroting wat deur die ANC afgedwing is. Die DA het gewaarsku teen die oorskatting van inkomste en die groot invloed wat dit op dienslewering sal hê.

“Ons as die DA dring daarop aan dat die misrekening dringend reggestel word, tot voordeel van die inwoners en die vooruitbeplanning van die Mangaung-metro.”
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.