Groentetuine verrys in straat in Heidedal

Pampoene, lekker groot koppe mielies en spinasie word reeds geoes in Bachstraat, Heidedal, waar meer as die helfte van die huise in dié straat nou ywerig aan hul kostuine werk.


Pampoene, lekker groot koppe mielies en spinasie word reeds geoes in Bachstraat, Heidedal, waar meer as die helfte van die huise in dié straat nou ywerig aan hul kostuine werk.

“Bach Street Magic,” noem Thabo Olivier, voedselsekerheidsaktivis, dié projek waar ’n groep inwoners van 8 Desember af opleiding ontvang het en nou alles wat hulle geleer het prakties toepas. Hy is die fasiliteerder van dié splinternuwe program.

Die kursus val onder die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Innovasiedienste (CUTis) en het ten doen om vaardigheidsontwikkeling te doen.

Zelda Uwah, CUTis se direkteur van kommersiële werksaamhede, sê dié Kostuin-kortkursus in Landbou, Kos en Gasvryheidsbestuur, is gemik op enigeen, van laerskoolleerlinge tot volwassenes wat groente en vrugte wil verbou. Sy sê die kursus is in die proses om geakkrediteer te word by die Sektor Onderwys en Opleidingsoutoriteit (Seta).

Ivan Kock voor sy huis in Bachstraat 12. Hy het verlede week vir hom stellasies vir sy skadunette van riete wat hy in die omgewing versamel het, gebou. Die stellasies moet nou met sakke oorgetrek word om die groente wat hy daar gaan plant teen die son en hael te beskerm.

“Mense dink jy moet landbougrond hê om groente te kweek. Al wat jy nodig het is die grond tot jou beskikking en baie ywer.”

Dié eerste fase van die kursus het oor 14 dae gestrek waarvan slegs drie dae teoretiese opleiding was en die res praktiese opleiding deur Olivier.

“Dit gaan hier oor kapasiteit en selfvertroue,” verduidelik Olivier die doel agter die kursus. “As jy eers kapasiteit en selfvertroue oorkom het, staan niks in die pad van sukses nie. Waar kry jy ’n sertifikaat vir ’n kursus waar jy nie nodig het om ’n eksamen te skryf nie? Al wat jy moet doen om ’n sertifikaat te verwerf, is ’n tuin maak.”

Olivier is bekend vir sy passie vir kostuine en het al oral in Suid-Afrika en tot in plekke soos Mosambiek vir gemeenskappe gehelp om volhoubare kostuine te begin. Hy glo in die gebruik van alles wat in die direkte omgewing beskikbaar is. “Daar is soveel wat ’n mens kan herwin en hergebruik. Ek het meters en meters harde plastiekpype by die stortingsterrein gekry wat perfek werk vir die oprigting van skadunette.”

Sonia Venter (regs) wys vir Kgotso Thole, sakeontwikkeling en bemarkingsbestuurder van CUTis haar groentetuin.

Voor Ivan Kock se huis in Bachstraat 12 het daar Donderdag (12/01) reeds ’n groot struktuur van bamboes gestaan wat hy in ’n vlei naby sy huis gepluk het. Dié struktuur moet nou met sakke oorgetrek word om sy groente teen die harde somerson en voëls te beskerm.

Ook Morné Kraalshoek is reeds geruime tyd aan die tuinmaak. Sy mielies dra al geil en hy het ook wortels en spinasie in die tuin.

Olivier sê die volgende fase in die kursus is om die ryp vrugte te verwerk. “Deur groente en vrugte te verwerk en te verkoop, verhoog die waarde van jou produk,” verduidelik hy. “Die laaste deel van die kursus is die bemarking van die produkte. So is dit ’n volhoubare tuin wat nie net vir die inwoners ’n bron van kos is nie, maar ook vir hulle ’n goeie inkomste uit hul eie tuine kan verseker.”

Een van die pampoene in Ashill en Dullin Herrendörfer se tuin.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.