Ná onderbrekings die afgelope paar jaar bied die Kopanong-kerk begin Januarie weer sy gebruiklike kamp op Mooigenoeg aan.
Marlou Strydom, bemarker en tegnikus van dié studentekerk, sê die Kougomkamp van 18 tot 21 Januarie gaan oop wees vir alle voorgraadse studente.
“Vir die afgelope 31 jaar bied Kougom een van die beste ervarings vir eerstejaarstudente wat die studentelewe betree. Kougom, soos aangebied deur Kopanong-kerk, voorheen die Kovsiekerk, is gevestig as ’n uitstekende verwelkoming aan die universiteitslewe, met ’n program om studente geestelik, emosioneel en sosiaal te ondersteun.”
Weens die invloed wat Covid-19 die afgelope paar jaar gehad het, is die kamp volgende jaar toeganklik vir alle voorgraadse studente en nie net eerstejaars nie.
Kougom 2023 sal klem plaas op die bou van nuwe verhoudings, die ontdekking van ’n rigting vir die toekoms en die verkenning van hoe studente, oftewel die leiers van môre, voorberei kan word om die toekoms helder te verlig.
“Alles hou verband met ons oorhoofse tema: ‘Verlig die toekoms’,” bevestig Strydom.
“Ons glo in ’n helder toekoms in die hande van jongmense en ons studente, en daarom wil ons met hierdie Kougom van 2023, daaraan werk om studente met goeie Christelike waardes die toekoms in te stuur.”