Op die bekendstelling is van links prof. Frikkie Mare (akademiese departementshoof van landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat), Henco Strydom (adjunkvoorsitter van Kovsies Agri), Nicola Wiid (voorsitter van Kovsies Agri) en dr. Theo de Jager (raadsvoorsitter van Saai). Foto: Lientjie Mentz


Die studentevereniging vir landbou aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die bekendstelling van Kovsies Agri Dinsdag (14/03) by die Oudstudente-sportklub.

Volgens Nicola Wiid, voorsitter van Kovsies Agri, is dit meer as net ’n studente-organisasie, maar ’n dinamiese groep jong mense wat graag die gaping tussen die landbouwaardeketting en die boere van môre wil oorbrug.

Ná die stigting van Tuks Landbou by die Universiteit van Pretoria, het landbou-organisasie Saai ook betrokke geraak by ander landboufakulteite en so ook gehelp met die stigting van Kovsies Agri.

Dr. Theo de Jager, raadsvoorsitter van Saai, sê dit is vir hulle belangrik om met die leiers van môre saam te werk.

“Saai se fokus is op families wat van landbou afhanklik is vir hul inkomste. Die familieplaas is vandag onder meer druk as ooit. Ons glo dit is die moeite werd om alles in te sit om medium en klein familieplase vir die toekoms te bewaar. Dit is studente soos hierdie met kennis van wetenskap en tegnologie wat familieplase se toekoms kan verseker.”

Hy sê Saai wil met sy betrokkenheid by studente-organisasies soos Kovsies Agri die droom van ’n energieke landbousektor oor 20, 30 jaar verseker deur môre se leiers vandag positief te beïnvloed.

Prof. Frikkie Mare, akademiese departementshoof van landbou-ekonomie aan die UV, sê vir lank is landbou nie as ’n goeie loopbaankeuse beskou nie.

“Gelukkig het hierdie neiging mettertyd verander en vandag is landbou weer sexy danksy tegnologie en wetenskap.”

Hy sê in 2006 was daar net sowat 80 eerstejaarstudente in landbou terwyl daar met vanjaar se inname 490 landboustudente is. Mare sê studente sien vandag die moontlikhede in die landbouwaardeketting met meer as 90% van studente wat nie op plase grootgeword het nie.

Nicola sê Kovsies Agri beplan talle aktiwiteite vir lede van die organisasies soos uitstappies na Nampo, betrokkenheid in die gemeenskap soos die skep van ’n groentetuin by Bloemshelter asook hulp by die Street Store.

Sy sê as studenteorganisasie wil hulle aan studente die geleentheid bied om praktiese kursusse te doen en ook boeredae by te woon.

“Ons beplan om ook ’n landboudag vir vroueboere aan te bied.”

Alle studente, nie net dié wat landbou studeer nie, het van Dinsdag af die geleentheid gekry om by Kovsies Agri aan te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.