Robert Summers (links) en Caden Kakora is deel van die pluimbalspan wat tot Sondag (08/08) aan die Statebondspele in Engeland deelneem.


Tien Kovsies of voormalige Kovsies is deel van die Suid-Afrikaanse span van 251 wat Suid-Afrika in die Statebondspele in Birmingham, Engeland, verteenwoordig.

Daar is Suid-Afrikaners wat reeds medaljes in dié spele verwerf het – beslis noemenswaardig is die Blitsbokke wat Sondag (31/07) met Fidji klaargespeel het vir die goud in die Sewes-rugby.

Ook die Suid-Afrikaanse swemmers Lara van Niekerk (50 m borsslag) en Pieter Coetzé (100 m rugslag) het elk ’n goue medalje gewen. Tatjana Schoenmaker het goud gewen in die vroue 200 m-borsslag en Chad le Clos het ’n silwermedalje gekry vir die 200 m-vlinderslag.

Atlete van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat in verskillende items aan die spele deelneem, is Anneke Bosch (vroue T20-krieketgroep), Shindré-Lee Simmons (hokkie), Khanyisa Chawane en Lefébre Rademan (netbal), Neil Powell (afrigter van die seëvierende sewes-rugbyspan), Yolandi Stander (diskus), Jovan van Vuuren (verspring), Robert Summers en Caden Kakora (pluimbal).

Nog ’n Kovie-eerstejaar Elmien Viljoen, neem van 7 tot 8 September deel aan die Statebondspele se Karate-kampioenskappe in Birmingham.

Caden het Sondag (31/07) sy mans-enkelspelwedstryd teen Kalombo Mulenga met 17-21,21-15 en 21-12 gewen. Mulenga is 100 punte bokant Caden op die wêreldranglys.

Die Suid-Afrikaanse span waarin dié twee Bloemfonteiners speel, het Zambië met 4-1 gewen en sou Maandag (01/08) teen Maleisië gespeel het.

You need to be Logged In to leave a comment.