Kovsies kraai weer koning

DIE Kovsies spog met ’n seldsame eerste deur gelyktydig die nasionale studentekampioen in die 15- én 7-man weergawe van rugby te wees. Dít kom nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sewesspan Tukkies in Maandag se eindstryd van die Varsity-sewestoernooi in Kaapstad met 24-19 geklop het om die beker te verower. Die Kovsies was…


Die vleuel Carel-Jan Coetzee was een van die voorste driedrukkers en ’n Kovsie-staatmaker in die Varsity-sewestoernooi.

Foto:
Saspa

DIE Kovsies spog met ’n seldsame eerste deur gelyktydig die nasionale studentekampioen in die 15- én 7-man weergawe van rugby te wees. Dít kom nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sewesspan Tukkies in Maandag se eindstryd van die Varsity-sewestoernooi in Kaapstad met 24-19 geklop het om die beker te verower.

Die Kovsies was die welverdiende wenners deur die beste van die tien spanne in die groepfase te vaar. Hulle het sewe van die nege wedstryde gewen om bo-aan die puntelys te eindig en daarmee ’n halfeindstryd teen Pukke te verseker.

In ’n herhaling van die Varsitybeker-eindstryd was die Kovsies gans te sterk deur met 36-17 te wen. In die eindstryd het alles nie altyd rooskleurig gegaan nie en moes die wenspan ’n 7-12-agterstand uitwis.

Die afrigtingspan, Erick Colyn en AJ Coertzen, onderskeidelik die Shimlas se fisioterapeut en kaptein in die Varsitybeker, se tydsberekening vir die kragspel (’n minuut waarin punte dubbeld tel) was perfek en die span kon met ’n verdoelde drie die voortou met 19-12 neem. Tuks se derde drie was teen die verloop van die spel.

Die Blou Trein het die toernooi begin deur met 14-19 in sy openingswedstryd teen die verdedigende kampioen, Maties, vas te val. Drie seges het gevolg voordat die manne deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) in die spanne se finale wedstryd van die eerste dag met 0-24 aarde toe gebring is. Dit was egter die laaste keer dat die Vrystaters sou verloor. Die Shimla-skrumskakel, TJ Goddard, is as speler van die reeks aangewys

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.