Dit is die Vrystaat teen Johannesburg in die eindstryd van die opwindende Varsity-netbalreeks, wat op Maandag 7 Oktober in Bloemfontein beslis word.
Dit kom ná die taai halfeindstryd-wedstryde in die reeks wat Maandag gespeel is.
Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Kovsie-netbalspan gaan mik vir ’n vyfde Varsity-netbaltitel.
Die span het die eerste eindstryd in die reeks in 2013 gewen, asook in 2014. Kovsies het ook in 2018 en 2021 die titel gewen.
Die span spog met top-afrigters – die hoofafrigter, Burta de Kock is ’n ervare hand, en die twee Protea-netbalspelers Karla Pretorius en Khanyisa Chawane is die hulpafrigters van die Kovsie-netbalspan.
Kovsies het in sy halfeindstryd teen die Universiteit van Pretoria (UP) se Tuks met 68 – 62 gewen.
Rolene Streutker en Xandri Fourie het puik gevaar in die doelsirkel.
Fourie is as speler van die wedstryd aangewys.
In die ander halfeindstryd in die reeks het die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 55 – 48 gewen teen die span van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Die UJ was verlede jaar die naaswenner teen die NWU, wat die trofee verower het.
Kovsies pak die UJ-span Maandag om 19:00 in die Callie Human-sentrum op die hoofkampus van die UV.
Dit gaan ’n naelbytstryd wees tussen die twee topspanne in die afgelope reeks. Bloemfonteiners kan dié wedstryd as toeskouers bywoon, of op DStv SuperSport kyk en die plaaslike span ondersteun.