Bloemfonteinse elektrisiteitverspreider Centlec doen nou ’n oudit by huise in die stad om te kyk na voorafbetaalde elektrisiteitsmeters en te bepaal of daar moontlik bedrog gepleeg en krag gesteel word.
Valerie de Kock, VF Plus-raadslid, sê die beamptes wat vir die taak gehuur is, kyk ook na die distribusie-bord in huise en of die huis sonpanele het. Aantekeninge word daarvan gemaak.
Sy sê sy het die beamptes as baie vriendelik ervaar en hulle vertoef nie lank in huise nie. Hulle het identiteitskaarte om hulle te identifiseer.
Pieter Lotriet, ’n DA-raadslid, sê heelparty mense omseil voorafbetaalde kragmeters, misbruik die stelsel en steel krag. Dit is waarom die oudit gedoen moet word.
Hy sê mense wat die meters omseil, moet weet daar is boetes betrokke. Hulle moet ook ’n heraansluitingsfooi betaal wanneer hulle uitgevang word. Tronkstraf kan selfs opgelê word as die inwoner hof toe gevat word.
Centlec waarsku die publiek teen mense wat onwettig elektrisiteit op krediet in die Mangaung-metro verkoop.
In ’n verklaring word gesê dat Centlec nie ’n produk het waar elektrisiteit-bewyse op krediet verkoop word nie.
Krag vir voorafbetaalde meters moet slegs by wettige handelaars gekoop moet word.
–
Marietjie Gericke en Lientjie Mentz