Kragprobleme lei tot watertekorte in Bloemfontein

Nie net moet Bloemfonteiners voortdurend planne maak wanneer die krag vir lang ure af is, weens herstelwerk aan die infrastruktuur en beurtkrag nie, is die waterdruk gereeld in dele van die stad boonop laag of is die krane leeg.


Nie net moet Bloemfonteiners voortdurend planne maak wanneer die krag vir lang ure af is, weens herstelwerk aan die infrastruktuur en beurtkrag nie, is die waterdruk gereeld in dele van die stad boonop laag of is die krane leeg.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, sê in ’n verklaring watertoevoerprobleme kan in verskeie dele van die stad voorkom weens kragonderbrekings en beurtkrag.

Hy sê dit is nie net Mangaung wat onder dié probleme gebuk gaan nie, maar volgens navorsing van die Waternavorsingkommissie verhinder die voortdurende beurtkrag en kragonderbrekings die toevoer van water en ook die gehalte daarvan.

Dié probleme is nou selfs erger met die instelling van vlak 6-beurtkrag en kan meer dele van Mangaung in die volgende paar dae raak.

Elektrisiteit is saam met chemikalieë, personeel en infrastruktuur die belangrikste elemente in die behandeling en verspreiding van water na huise, skole en ondernemings.

Die pomp van water gebruik baie elektrisiteit en waar daar gereeld of vir lang tye kragonderbrekings is soos die afgelope twee dae in Bloemfontein, sal dit die beskikbaarheid, gehalte en behandeling van water raak.

Veral dele van die metro soos Dewetsdorp, Vanstadensrus, Soutpan en Thaba’Nchu word erg geraak omdat die pompstasies wat water na dié dele pomp, met die hand aangeskakel moet word en somtyds uitskop ná beurtkrag.

Dit is ook die geval in Heuwelsig, Hillsboro, Groenvlei en Spitskop. Die Mangaung-metro het verlede jaar met ’n proses begin om hierdie waterinfrastruktuur te verbeter.

Khedama sê die metro versoek inwoners om water spaarsamig te gebruik waar daar beurtkrag of kragonderbrekings weens herstelwerk aan die elektrisiteit, is.

Hy sê die munisipaliteit werk daaraan om kragopwekkers te kry wat probleme met waterverskaffing kan help oorkom.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.