
Ans Coetzee van Athalia
Die verhoogde elektrisiteitstariewe wat vandag (01/07) in die Mangaung-metro (Bloemfontein, Dewetsdorp, Wepener, Vanstadensrus, Thaba Nchu en Botshabelo) in werking tree, gaan kos uit mense se monde wegvat.
Só reageer Ans Coetzee van die nie-winsgewende organisasie Athalia in Bloemfontein, waar 170 mense in sowat tien huise versorg word.
Mense wat van 1 Julie af byvoorbeeld 500 eenhede krag koop, sal ’n allemintige R278.39 of 23.78% meer opdok.
So sê DA-raadslid Hans Britz oor die tariewe wat Dinsdag (29/06) op ’n raadsvergadering goedgekeur is.
“Die Mangaung-metro, of moet ek liewer sê die ANC-deel van die raad, het op 31 Mei ’n besluit goedgekeur dat elektrisiteitstariewe met 14,59% styg vir die geldjaar 2021/2022 soos dit deur Nersa goedgekeur is.”
Hy sê hy het daarna op 2 Junie die uitvoerende hoof van Centlec gekontak en aan hom gesê die raad moet verskillende tariewe goedkeur. “Hy kon ook nie die goedkeuring vir die tariefverhoging van Nersa aan my verskaf nie en het gesê hy wag nog daarvoor.”
Hy sê in die agenda van Dinsdag se vergadering is die goedkeuring deur Nersa ingesluit, maar die datum daarop was 7 Junie – dus ná die raadsbesluit wat op Nersa se goedkeuring berus het.
In die nuutste vergadering is die bandwydte waarvolgens residensiële eiendomme elektrisiteit koop, dramaties verander. In die vorige bandwydte het klante dieselfde vir 1 tot 350 kWh eenhede betaal. Dit is nou verander na 1 tot 150 kWh eenhede en die tweede tarief tree in werking vanaf 151 kWh. “Daar word nêrens verduidelik hoekom dit nodig blyk te wees nie.”
Hy sê hierdie verandering dra daartoe by dat mense ver meer sal betaal as die 14,59% wat Nersa se riglyn is.
“Vir iemand wat 100 eenhede krag gaan koop, sal die styging in tariewe 14,59% wees, maar hy gaan nie ver daarmee kom nie,” sê hy.
Coetzee sê haar kleinste huis waarin 14 mense bly, gebruik 701 eenhede krag per maand en daar is ’n gasstoof. Een van die ander huise het 1 088,6 eenhede verlede maand gebruik en nog ’n huis 1 650,74 eenhede.
“Die verhoogde tariewe gaan Athalia geweldig swaar tref,” sê sy.
Sy sê die meeste inwoners is van Sassa afhanklik en dit het met net R30 per maand die afgelope jaar gestyg. “Ek sal nie die verhoogde kragtariewe van inwoners kan verhaal nie.”
Talle Bloemfonteiners en ander organisasies het gister ook oor die nuwe kragtariewe gekla.
“Die probleem kom by die 200 eenhede (151-350) wat op die laer tarief was wat nou na die hoër tarief geskuif is. “Na my mening word Nersa se riglyn-verhoging op dié manier omseil,” sê Britz.
Britz sê boonop het kragtariewe van 1 Julie 2016 tot
1 Julie 2021 met 51,35% gestyg.
1 Julie 2021 met 51,35% gestyg.
Mike Spencer, eienaar van Platinum Global in Bloemfontein, sê dit wys net weer op die onbekwaamheid van die huidige administrasie van die metro en sy elektrisiteitsverspreider.
“Die verhoging was nie in die onlangse begrotingsvoorstelle waarteen inwoner- en sake-organisasies sterk kapsie gemaak het nie.
“Ek glo nie dit kan wettig wees om dit so te verander nie tensy dit deel is van die gepubliseerde begroting waarop alle inwoners die kans gegun was om beswaar te maak nie.”
“Die skok kom ná jaarlikse verhogings en inflasiestygings oor baie jare. Dit is totaal onaanvaarbaar.”
Wilco du Toit, besturende direkteur van National Real Estate in Bloemfontein, sê die uitbuiting van die private sektor en huishoudings is nie volhoubaar nie.
“Die stad is op sy laagste punt in die geskiedenis. Die leegstaansyfer van kommersiële en residensiële eiendomme is op die hoogste vlak in die geskiedenis.”
Waarom kan Centlec nie sy salarisrekening in toom hou en sy bedryfskoste inkort nie?
“Hoekom moet eienaars van sekere residensiële eiendomme soos in Dan Pienaar meer vir krag opdok as wat die geval is in townships waar eienaars van huise met dieselfde inkomste as diegene in Dan Pienaar minder hoef te betaal?”
Die vraag is waarom Centlec nie sy skuldinvorderingskoers kan verbeter nie en waarom tradisionele wit woonbuurte heeltyd die krag van township-inwoners moet subsidieer.
Du Toit sê “ons het nog nooit soveel sakeondernemings in Bloemfontein sien toemaak nie. Die hoër kragtariewe sal veroorsaak dat net meer se kele afgesny word en deure moet sluit.
“Al wat gaan gebeur, is dat dit tot groter werkverliese sal lei.”