Kragskuld opnuut benader

Talle provinsiale geboue is sedert Vrydag (20/05) in duister gehul nadat Centlec begin het om geboue se elektrisiteitstoevoer af te sluit.


Talle provinsiale geboue is sedert Vrydag (20/05) in duister gehul nadat Centlec begin het om geboue se elektrisiteitstoevoer af te sluit.

Ook die Vrystaatse wetgewer se krag is af weens wanbetaling deur die provinsiale departement van openbare werke.

Dr. Roy Jankielsohn, provinsiale leier van die DA in die Vrystaat, het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê die DA is ingelig dat die departement sowat R119 miljoen aan Centlec skuld.

Dit is nie die eerste keer dat regeringsgeboue weens wanbetaling sonder krag sit nie. Boonop het die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, tydens ’n besoek aan die metro op ’n raadsvergadering gesê staatsgeboue se krag en water mag ontkoppel word as die regering nie vir dienste betaal nie.

Die kommunikasie-afdeling van Centlec het Dinsdag (24/05) op navrae van Bloemnuus gereageer dat daar begin is met ’n proaktiewe stap om private huise en openbare instellings se elektrisiteit af te sluit. Dit kom nadat die uitvoerende burgemeester tydens die 2021-’22-boekjaar besluit het dat ’n deeglike meter-oudit gedoen word. Daar is ook begin met ’n fisieke verifiëringsproses sodat die basiese diens aan die gemeenskap voortgesit kan word.

Volgens Lele Mamato, woordvoerder vir Centlec, is die oudit en verifiëring gedoen vir almal wat deur Centlec elektrisiteit ontvang – nie net in die Mangaung-metro nie, maar ook in die Mohokare- en Kopanong- plaaslike munisipaliteit.

“Ons kan bevestig dat Centlec begin het om die krag af te sluit wanneer kliënte nie betaal nie. Dit sluit private eiendom en regeringsgeboue in. Diegene wie se rekening meer as 30 dae uitstaande is sonder dat hulle alternatiewe reëlings getref het, se krag is afgesluit.”

Mamato sê sedert hulle begin het om die kragtoevoer af te sny, het talle kliënte na hul kantoor gestroom om reëlings oor betalings te tref.

“Die elektrisiteit sal slegs weer aangesluit word indien ’n betaling gemaak is. Dit is nie ’n veldtog nie, maar ’n kredietkontroleproses wat maandeliks sal gebeur.”

Volgens wetgewing moet rekeninge wat verskaf word, maandeliks teen die sewende van die maand betaal word.

“Waar ’n betaling nie binne 14 dae gedoen word nie, kan die huis of instelling se elektrisiteitstoevoer sonder waarskuwing afgesluit of gestaak word.”

Mamatu sê dit is ’n voortdurende poging om seker te maak dat skuld ingevorder word, die infrastruktuur onderhou word en die infrastruktuur fisiek geverifieer word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.