Bill en Hanli de Villiers by die substasie onder die onderneming en die High Tide Heights-woonstelblok. Foto: Lientjie Mentz

Met die kragtariewe wat Vrydag (01/07) verder die hoogte inskiet, het twee sake-eienaars van ’n onderneming en woonstelblok genoeg gehad van jare se stryd met Centlec.

Bill en Hanli de Villiers, eienaars van High Tide Heights in Zastronstraat, beplan om nou met die hulp van Dirk Kotzé, raadslid, briewe te rig aan die kantoor van pres. Cyril Ramaphosa; Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings; André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom; en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

Dit kom ná ’n hofsaak en dispute oor 12 jaar oor hul elektrisiteitsrekeninge, waarin die 55 woonstelle wat in High Tide Heights is se rekenings volgens saketariewe bereken word.

Asof dit nie erg genoeg is nie, is daar ’n elektriese substasie onder die woonstelblok wat hoegenaamd nie goed in stand gehou word nie. In 22 jaar is dié substasie, wat elke ses maande versien behoort te word, net een keer nagegaan. Dit is reg onder die onderneming se kantoor en hou groot veiligheidsrisiko’s in.

Bill sê hulle het Kotzé se hulp ingeroep ná vele pogings om die duur saketarief van die kompleks te beveg. Hulle moes al ’n voertuig en twee huise verkoop om al die skuld aan Centlec te help betaal en om regskostes te betaal.

Die egpaar het die eiendom in 1998 gekoop, en tot 2010 het hulle aparte rekenings vir elke woonstel en die onderneming ontvang. Sonder dat hulle ingelig is, is ’n Jagertech-stelsel in 2010 aangebring, wat nou slegs een rekening aan hulle stuur.

Bill sê nadat die nuwe stelsel aangebring is, het die inwoners gekla omdat hul rekenings die hoogte ingeskiet het. By nadere ondersoek het hulle besef die stelsel werk volgens tyd van verbruik, en sake-tariewe geld in die wooneenhede.

Die substasie wat onder die woonstelblok is en aan ’n gedeelte van Zastronstraat elektrisiteit voorsien.

Hulle het ’n kwotasie gekry om ’n Centlec-stelsel te laat aanbring, maar dit sou hulle sowat R300 000 kos.

Hulle het hulle in 2011 tot prokureurs gewend om ’n dispuut teen Centlec te verklaar. In Augustus 2015 het Centlec hulle vir meer as R1 m. gedagvaar. Hulle het die saak teengestaan, en tot vandag is dit steeds onafgehandel.

In 2016 is die onderneming en kantore se krag deur Centlec ontkoppel en hulle is beveel om R184 573 te betaal om dit weer aangeskakel te kry.

In 2018 het Centlec weer die krag ontkoppel en moes hulle R517 587 betaal. Hulle het ’n dringende hofbevel gekry dat die krag nie ontkoppel moet wees nie. Hulle het die saak in die hof verloor, omdat die regter se uitspraak was dat daar nie ’n dispuut teen Centlec ingedien is nie. Hulle het egter dokumente dat die dispuut wel geldig was, en as eienaars moes hulle die bedrag by die bank leen om aan Centlec te betaal.

Kotzé sê verskeie ander Centlec-kliënte sit met verwante probleme.

“ ’n Meenthuiskompleks in Uitsig het ’n jaar gelede al aan Centlec R390 000 betaal om meters aan te bring, maar dit het nog nie gebeur nie,” sê hy.

High Tide Heigts in Zastronstraat wat jare lank al gewikkel is in ’n tariefdebakel met Centlec.

In November 2020 het Kotzé saam met die egpaar die saak by die Openbare Beskermer aangemeld. Adv. Erika Cilliers het bevind dat die woonstelle verkeerd as Comflex gesoneer is en as Homeflex gesoneer moes word. Dit is so geliasseer by die aktekantoor, maar steeds word sake-tariewe vir wooneenhede gehef. Hulle betaal wel saketarief vir die sakeperseel op die grondverdieping.

Die substasie in die gebou se kelderverdieping hou ook ’n reuse-risiko in, en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het in samewerking met die Openbare Beskermer in 2019 bevind die Mangaung-metro of Centlec moet dit verwyder.

Nou vra die egpaar dat Centlec se rekening sedert 2010 hersien word, dat die substasie verwyder word, die huur vir die substasie vanaf 1998 betaal moet word en dat Centlec vooraf-betaalde meters op sy koste aanbring.

You need to be Logged In to leave a comment.