Suid-Afrikaners wat die afgelope jare erg gebuk gaan onder stygende voedselpryse, duur petrol- en dieselpryse en boonop geteister word deur erge beurtkrag, gaan nou selfs nog meer moet opdok vir elektrisiteit.
Dit kom nadat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) besluit het om elektrisiteitstariewe met 18,65% te verhoog.
Suid-Afrikaners het in 2022 meer as 120 dae in die donkerte deurgebring weens beurtkrag, en moet nou selfs nog meer betaal vir krag wat daar dikwels nie is nie.
Eskom het aanvanklik ’n 32% verhoging vir die tariefjaar wat op 1 April begin, geëis. Dit geld alle regstreekse Eskom-kliënte.
Kempen Nel, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se komitee vir kommersiële sake, sê dié tariefverhoging is ’n verdere doodskoot vir inwoners op landelike gebiede.
“Die verhogings is hoogs onbekostigbaar en kom op blatante plundery neer,” meen Nel, ’n besproeiingsboer.
Munisipaliteite wat Eskom R56 miljard skuld – waarvan die grootste gedeelte vanuit die Vrystaat kom – bly die grootste sondebok, maar is ook toegelaat om hul herverkoopheffings op Eskomkrag met dieselfde persentasie en hoër te lig.
VL, deur AgriSA as vriend van die hof, is teen die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) se hofaansoek dat munisipaliteite die herverkoop-diensverskaffers moet word in landelike gebiede waar Eskom reeds direk aan boere krag verkoop.
VL het in sy voorleggings aan Nersa lankal gewaarsku dat die drumpelpunt vir oorskakeling na alternatiewe energiebronne bereik is vir landelike huishoudings.
Nel sê massiewe bedrae is al deur landbouers spandeer vir ondersteuningsenergieoplossings waar nie sonder energie gegaan kan word nie. Dit sluit veiligheidstoestelle, melk-tenks, pakhuiskoelkamers en vrieskaste vir bewerkte vleis en ander varsprodukte om te verseker dat die produkte vars en gesond deur die voedselwaardeketting tot by die verbruiker gaan.
Boere bly prys-nemers en die toenames in onbeplande gedwonge uitgawes weerhou beleggings in nuwe tegnologie en toerusting om boerderye meer effektief en volhoubaar te maak, asook voedsel meer bekostigbaar.
Eskom se verspreidingsnetwerkkostes het nie noemenswaardig toegeneem nie, maar die toename is ook toegelaat op die vastekoste komponent van ’n Eskom-rekening waaroor VL lankal waarsku.
Die vaste koste vir ’n gewone plaashuis se lynfooi is al duurder as die paaiemente vir ’n 5kVA alternatiewe energieoplossing, sê Nel. “Dus verloor Eskom nie net al hoe meer goeie en betalende kliënte nie, maar gaan verder af in die sogenaamde afwaartse gebruikswaardespiraal.”
Hy sê die onbetroubaarheid van Eskom raak veral besproeiingsboerdery op ’n maksimum groeiperiode wanneer daar nou deur die nag besproei moet word.
“Sonkrag kan gedurende die dag gebruik word, maar die batterye om alternatiewe energiebronne, of self Eskom se krag, te stoor vir wanneer dit benodig word, bly onekonomies en onbekostigbaar. “Behalwe die belaglike kosteverhoging van krag is die onbetroubaarheid van kragvoorsiening ’n verdere groot rooi-vlag vir voedselsekerheid,” sê Nel.