Sy het verlede jaar vir die pret die eerste keer aan ’n sterkmankompetisie by die skool deelgeneem en onlangs internasionale rekords in kragoptel verbeter.

Binne ’n jaar het Roechelle van der Merwe, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Jim Fouché, vinnig opgang gemaak in kragoptel nadat sy die informele kompetisie by die skool in die afdeling vir meisies gewen het.

’n Onderwyser het voorgestel dat sy dit oorweeg om aan kragoptel deel te neem.

Dié uitblinker in netbal en hokkie het daarna onder afrigting van Bernice van der Westhuizen begin oefen.

Sy het in Oktober verlede jaar aan haar eerste kompetisie deelgeneem, en in Februarie vanjaar meegeding in die Internasionale Kragoptelfederasie (IPF) se Vrystaatse en Noord-Kaapse Klassieke Kragoptel-kampioenskap.

Sy was eerste in die subjunior afdeling op hierdie byeenkoms in Bloemfontein en het deurgedring na die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat in Maart in Fochville aangebied is.

Hoewel Roechelle 16 is, neem sy deel in die subjunior afdeling vir meisies 18 jaar en jonger, in die gewigsgroep vir deelnemers onder 76 kg.

In die Suid-Afrikaanse kampioenskap het sy 125 kg opgestoot in die hurksit (squat), 57,5 kg opgestoot in die bankiedruk (bench press) en 145 kg opgetel in die dooiegewigoptel (deadlift).

Sy is ingesluit in die Suid-Afrikaanse span wat op 2 September aan die IPF se wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir junior en subjunior atlete in Turkye gaan deelneem het.

Hier het sy, benewens ’n algehele derde plek en ’n derde plek in die hurksit, die Statebondspele-kragoptelrekords verbeter.

Sy is baie beskeie haar prestasies.

“Vir my was die lekkerste om dáár te wees waar die ander atlete van oor die wêreld heen deelneem,” sê Roechelle oor haar deelname en die eerste keer dat sy in die buiteland kom.

Die gewig wat sy in die hurksit opgetel het (130 kg) en die algehele gewig wat sy tydens haar deelname in Turkye opgetel het (340 kg) verteenwoordig Statebond- subjunior rekords.

Sy het ook op die geleentheid die Suid-Afrikaanse subjunior rekords in hurksit, bankiedruk (60 kg) en in die algehele gewig opgetel verbeter, asook die rekord in enkelbankiedruk verbeter.

Roechelle berei haar nou voor vir die Kragoptel-Statebondspele wat van 28 November af in Nieu-Seeland aangebied word.

“Ek oefen vier keer ’n week vroeg in die oggend in die gimnasium en moet die regte dieet volg,” sê die kranige atleet.

Die afgelope naweek het sy saam met haar span aan die Fast Five-netbaltoernooi in Boksburg gaan deelneem.

Ek oefen vier keer ’n week vroeg in die oggend in die gimnasium en moet die regte dieet volg.– Roechelle van der Merwe

You need to be Logged In to leave a comment.