Inwoners van dele van Heuwelsig en Groenvlei in Bloemfontein het teen Dinsdagmiddag reeds byna ’n week nie water in hul krane gehad nie.
Dit kom nadat herstelwerk verlede week aan Bloemwater se pype gedoen is en die Spitskop-reservoir nooit weer vol geloop het nie. Inwoners sê hulle het sedert Woensdag 31 Augustus nie water nie.
Maandag (05/09) het dié situasie vererger toe daar ontdek is dat daar barste in drie van Bloemwater se pype is. Dit het groot dele van die suide van Bloemfontein wat water van dié diensverskaffer ontvang, geraak.
Johan Pretorius, DA-wyksraadslid, sê inwoners van die wyk was al moedeloos, maar teen Dinsdagmiddag is daar uiteindelik ’n watertenkwa na Reynekelaan in die omgewing waar die mense die ergste geraak is, gestuur.
AfriForum het ook ’n waterpunt in Rayton beskikbaar gestel.
Bloemwater het Maandag met herstelwerk begin, maar Rossouw Botes van die DA het gesê die Brandkop reservoir was reeds redelik leeg toe daar met die herstelwerk begin is.
Botes het Dinsdagmiddag laat weet dat herstelwerk aan die pype goed vorder en dat as alles goed gaan, daar weer teen Woensdag (07/09) water in die pype behoort te wees.
“Dit gaan tyd neem vir die reservoirs om weer vol te loop, maar die eerste mense behoort teen Woensdagoggend reeds water te hê.”