Sy geniet dit baie om kreatief te raak as sy juwele ontwerp.
Só gesels Lenize Steyn, ’n gr. 6-leerling van die Laerskool Willem Postma, oor die pragtige oorbelle en ander juwele wat sy maak.
Lenize is een van die jong entrepreneurs wat ’n stalletjie gaan hê op Zijlstra’s Autohaus se mark en vertoning van supermotors en -motorfietse wat op Saterdag 27 November by die Emoya-landgoed aangebied word.
Lenize se ma, Lizelle, sê haar dogter is verlede jaar ingesluit in die nuwe Bloemfontein Children’s Choir (BCC). “Hulle toer einde volgende jaar oorsee en ek het vir Lenize gesê dat sy op ’n kreatiewe manier moet begin om geld bymekaar te maak vir dié lekker uitstappie,” sê Lizelle.
“Ek glo kinders moet vroeg al leer hoe om met geld te werk.”
Lenize was heel opgewonde en het selfs ’n kursus gevolg oor hoe om met Polymer-klei allerlei artikels te maak.
“Ek geniet dit baie,” sê sy. Sy maak ook oorbelle van hout en gelukshangertjies (charms).
“Dit is lekker om die klei se kleure te meng en in interessante vorms te verander. Dis maklik en jy bak dit net in die oond.”
Sy het onlangs by die Possiemark by die skool haar eerste stalletjie beman. Haar harebande (Alice bands) wat met blomme versier is, het soos soetkoek verkoop.
Sy sien baie uit na die mark van 27 November en sê sy sal nog heelwat voorraad moet maak voor dan.
“Ek werk meestal oor naweke aan my juwele.”
Lizelle sê Lenize koop al die voorraad met haar eie geld. “Ek help haar met die aanlyn aankope en hier en daar om die juwele te maak, maar sy is baie oulik daarmee. Die juwele maak sulke lekker geskenke.”
Lizelle hou van die juwele by haar salon Exquisite Hair Boutique in Dan Pienaar aan en daar is ook van Lenize se juwele by die stalletjie Trompop in Tompsburg.
By die mark op Emoya sal ander jong entrepreneurs en ondernemings ook hul ware verkoop. Bekende sangers soos William Wolf tree op en mense kan kom kyk na versamelaars se supermotors en supermotorfietse. Kinders sal ook heerlik kan baljaar.
Toegang is hondekos, dierespeelgoed of ’n donasie wat alles aan New Beginnings geskenk gaan word.