Die afgelope paar jaar was daar gereeld probleme met betreding by Arthur Nathan-swembad, sê Ricus Slabbert van Bloemsec, maar die bendes het die afgelope vyf tot ses maande hier ingetrek, en misdaad in die woonbuurte naby die swembad het toegeneem.
“Verdagtes hardloop oor die terrein en verdwyn agter teen Naval Hill,” verduidelik hy.
“Dinge is baie moeilik. Ons wil misdaad beperk deur misdadigers aan te keer, maar ons kan hulle slegs in hegtenis neem as ons hulle op heterdaad betrap. Ons kan nie die mense uithou terwyl daar geen omheining is nie.”
Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid, sê meer as R9 miljoen is al bestee om die vernuwing van die swembad te ondersoek, maar dit het nog niks opgelewer nie.
“Nog R90 miljoen is hiervoor begroot. Dit is belastingbetalers se geld en die kans is baie goed dat as geld bestee word, verval onmiddellik weer sal intree, veral by ’n swembad.”
Die swembaddens by die kompleks staan al vir jare leeg met net vuil water op die bodem.