Krisis om grondgrype by Lourierpark in Bloemfontein duur voort

Dertien mense verskyn in Bloemfontein in die hof nadat mense sedert Saterdag onwettig op munisipale eiendom strukture opgerig het.


Terwyl 13 mense môre in die Bloemfonteinse landdroshof moet verskyn vir die oortreding van ’n hofbevel nadat mense sedert Saterdag onwettig op munisipale eiendom strukture opgerig het, stroom duisende mense steeds na die gebied bekend as die plaas Brandkop 702.

Dit blyk ook dat die uitvoerende burgemeester Gregory Nthatisi aan die onwettige besetters wat reeds strukture opgeslaan het, toestemming gegee het om te bly.

Die polisie se openbare orde-afdeling het Saterdag die tien mans en drie vroue in hegtenis geneem nadat die hooggeregshof ’n voorlopige bevel uitgereik het, wat verhoed dat mense onwettig dié grond beset het.

Die Mangaung-metro het Saterdag by monde van die woordvoerder Qondile Khedama die onwettige besetting van die grond langs Lourierpark tot by Rooidam en oorkant die Jagersfonteinpad tot by die Bloemdal-slaghuis veroordeel.

Volgens Adriaan de Bruin van die Vryheidsfront Plus se Nasionale Raad van Provinsies het sowat 6 000 besetters sedert Saterdag onwettige strukture op die grondgebied tussen Pellissier en Bloemdal langs die Jagersfontein, opgerig.

Nthatisi het Sondag tydens ’n nuuskonferensie gesê die stad se afdeling vir menslike nedersettings en die polisie werk nou saam om mense te keer om strukture op te rig.

“Ons verstaan mense het toegang tot grond nodig, maar onwettige grondbesettings moet nie toegelaat word nie.”

Intussen het hy egter glo gesê die mense, wie se strukture reeds opgerig is, kan voorlopig bly.

Die DA-raadslid vir wyk 18 waarin die grondbesetting plaasvind, David Mc Kay, het Saterdag gesê die mense stroom na die gebied en rig selfs strukture met bakstene op.

Hardie Vivier, die DA se koukusleier in die Mangaung Metro, sê die DA en ander lede van die gemeenskap het nou planne in plek om die metro en die polisie te dwing om die hofbevel wat verkry is om die onwettige grondbesetting hier te keer, toe te pas.

“Die traagheid van die munisipaliteit se pogings om die onwettige grondbesetting te verhinder, is onaanvaarbaar. Onmiddellike optrede is nodig. Die uitvoerende burgemeester moet verantwoordelik gehou word vir sy onvoldoende reaksie op die krisis.”

Vivier sê die hofbevel en die polisie het magtiging ontvang om die onwettige grondbesetters uit die gebied te verwyder.

“Ongelukkig was daar na wat verneem word politieke inmenging met wetstoepassing en die uitvoering van die hofbevel sodat min gebeur het om die betrokkenes te verwyder. Intussen neem die omvang van die krisis toe met mense wat hulle onwettig op die gebied vestig waar daar geen toegang tot basiese dienste is nie.”

Daar is glo al meer as ’n 1 000 strukture hier opgerig.

De Bruyn sê volgens inligting wat die VF Plus ontvang het, het ANC-wyksraadslede glo die besetters se grondhonger misbruik om die onwettige grondgryp aan te moedig.

“Hoewel populistiese uitsprake gereeld oor grond en eiendom gemaak word, is dit die ANC in die Vrystaat se eie departement van menslike nedersettings wat in die 2022/2023-boekjaar slegs 36,7% van sy beskikbare behuisingsbegroting kon bestee,” sê De Bruyn.

“In die proses het die departement misluk om meer as 81% van sy behuisingsteikens te bereik.”

Hy sê die VF Plus sal die proses om ‘n finale hofbevel teen die onwettige besetters te verkry monitor en daarop aandring dat die metro dit eerbiedig en uitvoer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.