’n Fees wat beloof om in alle opsigte onvergeetlik te wees is in die vooruitsig vir besoekers aan Kroonstad vir die KIA Makietie en die eerste Ignite and Revive-fees en Trio se ope dag.
Hulle kan ’n bedrywige feesprogram verwag, wat deur ’n spogdinee op Donderdagaand 20 Oktober voorafgegaan word.
Op die Vrydag, tydens Trio se ope dag, kan feesgangers nader staan vir die indrukwekkende landbou-uitstalling, vrouemark, teetuin en bier-en-gin-tuin. Hulle sal elke dag van 08:00 af na die stalletjies van ’n verskeidenheid uitstallers met interessante produkte en dienste kan loer en ook plaaslike vermaak kan ervaar. Kinders sal na hartelus baljaar met al die vermaak wat spesifiek vir hulle aangebied word.
“Dit is ’n eerste vir Kroonstad: ’n 3-in-1 fees waaroor ons kinderlik opgewonde is,” sê feesorganiseerder André van Pletzen van Ignite and Revive.
“Die fees is beplan rondom die KIA Makietie, wat Kroonstad as kykNET se Kwêla dorp van die jaar gewen het. Ons is trots om te sê dat dit ook die eerste Ignite and Revive-fees tesame met Trio se ope dag sal wees.”
Saans in die arena sal Ruan Josh, Franja du Plessis, Bok van Blerk, Danny Smoke, Reën, Willem Botha, Kurt Darren en Refentse musiekliefhebbers op hul voete hou. Feesgangers sal hulself in die geselskap van groot name in die vermaaklikheidsbedryf bevind, en bekende sepiesterre sal as seremoniemeesters optree.
Die naweek sal op die Sondagoggend met lofsang en aanbidding, asook ’n dankdiens, afgesluit word.
Kaartjies word op iTickets.co.za verkoop. Vir inligting, of om ’n stalletjie te bespreek, stuur e-pos na info@ignite&revive.co.za.