Die standbeeld van Paul Kruger het Woensdag 1 Oktober in Bloemfontein aangekom.

Die nuwe ewebeeld van Paul Kruger wat van Pretoria na Orania op pad is, het vanoggend in Bloemfontein aangedoen.

Die standbeeld, ‘n replika van die een wat op Kerkplein in Pretoria staan, is deur beeldhouer Jacques Müller gemaak. Dit is gemaak as deel van die 200ste verjaardagvieringe van Paul Kruger, president van die destydse Transvaalse Republiek met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899.

Die vieringe het op Erfenisdag in Pretoria begin, waarna ‘n reis met die standbeeld begin het.

Die reis met Paul Kruger se standbeeld het ‘n wyle by die Vrouemonument in Bloemfontein vertoef. FOTO: Verskaf

Dié reis het Woensdag 1 Oktober om 09:00 in Bloemfontein stilgehou waar kultuurorganisasies soos lede van die Volkspele-beweging ‘n plegtigheid by die Vrouemonument bygewoon het.

Prof. Andries Raath, plaaslike organiseerder van die projek Kruger trek na Orania, het ‘n praatjie gelewer oor Kruger se verbintenis met die Vrystaat.

“Kruger het ‘n sterk verbintenis met die Vrystaat. In Maart 1900 het die generaals in Transvaal gevoel vrede moet gesluit word, maar nadat Kruger met pres. M.T. Steyn van die Vrystaat en genl. C.R de Wet in Bloemfontein ontmoet het, het hy hom weer tot die stryd verbind,” sê Raath.

“Dit het gelei tot eenheid in Afrikaanse geledere.”

Raath sê verskillende kultuurorganisasies asook leerlinge van die Dankbaar CVO-skool en die Ou Presidensie Historiese Vereniging het die saamtrek in Bloemfontein bygewoon. Die toneelstuk “Kruger breek die pad oop” wat deur NP van WYK Louw geskryf is, is later by die Dankbaar CVO-skool opgevoer is. Die toneelstuk handel oor die lewe van Kruger en die harde besluite wat hy moes neem om wet en orde in Transvaal te bring.

‘n Grafiese voorstelling van die beeld wat op ‘n plein in Orania opgerig gaan word.

Die toer duur nou voort na Kimberley waarna dit in Orania sal aankom.

Daar sal die standbeeld van Kruger opgerig word en op Vrydag 10 Oktober amptelik onthul word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article