Kruie as medisyne dalk net die regte doepa

Met dié dat mense alternatiewe vir hedendaagse medisyne soek, het inheemse plante se medisinale waarde die afgelope paar jaar toegeneem. ‘n Kenner deel hier ‘n paar algemene gebruike en voordele van kruie.


Inheemse plante se medisinale waarde het die afgelope paar jaar toegeneem. Een van die redes hiervoor is dat mense alternatiewe vir hedendaagse medisyne soek en gesonder wil leef.

Weens die talle newe-effekte van moderne medisyne en die toenemende weerstand teen antibiotika, soek mense oor die wêreld heen na veilige maniere om gesond te bly en siektes te behandel.

Dr. Caren Hauptfleisch, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Geregistreerde Fitoterapeute met meer as 30 jaar se ondervinding in kruiemedisyne, sê die geleidelike toename in die gebruik van kruie kan wêreldwyd gesien word.

“Die gebruik van moderne gesondheidsorg soos ons dit vandag ken, het geleidelik tot die vervanging van talle inheemse gesondheidspraktyke gelei,” sê Hauptfleisch.

“Wetenskaplikes wêreldwyd wend hulle egter nou weer na plante en kruie vir nuwe formules van fitoterapeutiese agente om siekte te voorkom en te behandel.”

Sy sê Suid-Afrika, en in besonder die Wes-Kaapse blommestreek, bied ’n groot verskeidenheid inheemse medisinale plante wat veilig gebruik kan word.

“Die wetenskap en kliniese navorsing het baie van dié plante se medisinale waarde al bevestig.”

Sy verwys in besonder na kruie soos rooibos, heuningbos, boegoe, Aloe ferox (aalwyn) en duiwelsklou, met markte oor die wêreld heen wat dié plante graag in hul produkte insluit en ’n groot vraag na dié produkte in kruiemedisyne en natuurlike gesondheidsprodukte skep.

Een van die voordele van hierdie plaaslike kruie is dat dit ’n mens se gesondheid kan help onderhou.

Rooibos (Aspalathus linearis)

Rooibos is ryk aan antioksidante. Drink dié gesonde tee om jou te help om:

  • jou immuniteit te verhoog;
  • soorte kanker te help voorkom, vanweë sy selbeskermende effek;
  • jou bloedglukosevlakke te reguleer;
  • teen die agteruitgang van die hart te beskerm;
  • velkanker te help voorkom; en
  • vel teen irritasie te beskerm met anti-inflammatoriese eienskappe. 
Duiwelsklou (Harpagophytum procumbens)

Hauptfleisch sê hierdie plant as medisyne moet slegs gebruik word as dit volhoubaar gekweek kan word, en dit moet nooit in die natuur geoes word nie. Die plant word gebruik in die behandeling van pyn wat verband hou met artritis, lewer- en nierkwale, koors en malaria. Sy sê die plant is byna uitgewis deur die oorsese mark, wat daartoe gelei het dat mense begin het om dit kommersieel te produseer. Dit word ook gebruik in salf vir die behandeling van velprobleme soos sere en bloedvinte.

Kruie wat in die voorkoming en behandeling van wintersiektes gebruik word, sluit in:

Wildeals (Artemisia afra) vir die behandeling van infeksies van die lugweë.

Kankerbossie (Lessertia frutescens) help die liggaam om infeksies te beveg indien dit gereeld gebruik word. Dit verlig die simptome van verkoue en griep.

Wildeolyf (Olea europaea subspesie africana) voorkom infeksies, veral virale infeksies van die lugweë.

Wildeknoffel (Tulbaghia violacea) help in die behandeling van verkoue en simptome wat daarmee gepaard gaan, soos hoes. Dit streel inflammasie van die lugweë, insluitend ’n seer keel.

Salie (Salvia-spesies) beveg virale infeksies van die lugweë en help met ’n seer keel.

Ment (Mentha longifolia) verlig boonstelugweginfeksies, hoofpyn, koors en verkoue wanneer dit gebruik word met salie, wildeolyf en wildeals.

Hauptfleisch sê dié kruie word meestal gebruik as ’n kruie-aftreksel of word gestoom. Sommige is wel al as kruie-pille te koop.

“Wanneer ’n mens kruie as medisyne gebruik, is dit belangrik om die regte plant te gebruik, asook die regte dosis. Indien jy twyfel, vra ’n kundige voordat jy dit self probeer.”
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.