Vernuwing, verskeidenheid en ’n landbou-afdeling wat uit sy nate bars.
Dit is van die dinge wat Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, opgewonde maak oor vanjaar se skou.
“Ons sien so daarna uit om die kinders se gesigte te sien wanneer hulle die skou bywoon,” sê sy.
Daar gaan vanjaar weer heelwat wees wat die kinders na hul asem laat snak en hulle ure lank sal vermaak.
Nie net sal die skou van 25 April tot 4 Mei besoekers en deelnemers van oor die land heen trek nie, dit hou voordele vir die metro se inwoners in.
Prinsloo sê die bydrae van Bloemskou aan Bloemfontein en die groter Mangaung is van enorme waarde.
“Dit bied ’n ekonomiese inspuiting van meer as R50 miljoen, wat veral die verblyfbedryf, winkels, brandstofondernemings en ’n verskeidenheid diensverskaffers ’n hupstoot gee. Daar is ook ’n meer direkte inkomste vir die plaaslike munisipaliteit, wat byvoorbeeld betref die verbruik van water en elektrisiteit.”
Tydens die skou word meer as 1 000 tydelike werksgeleenthede geskep, wat ’n groot bydrae tot huishoudings se inkomste beteken.
Vir jonger kinders is daar, soos gewoonlik, die pretpark – waar hulle kan kies uit 32 ritte, waarvan ses vanjaar nuut is.
Ook uitstallings van die weermag, polisie, die brandweer en die pantserskool-museum, kan verwag word; en die gewilde uitstalling van diere op die plaaswerf soos hoenders, plaasdiere en koivisse en stamboom-rotte.
Die jongklomp sal beslis die skaaphondvertoning en die BMX- en skaatsplank-kompetisie geniet.
Al ooit gehoor van die Piesangskille? Wel, hulle tree vanjaar op 25 April op Bloemskou op, saam met die immergewilde Early B.
Droomsindroom en Rooksein is op 1 Mei op die skou.
As jy nog nooit gaan kyk het na die ovaalbaanwedrenne nie, gaan loer op 3 Mei na die opwinding.
- Kinders kan ook vanjaar kreatief wees deur ’n uitrusting van BloemNuus of BloemExpress te maak om die kans te staan om ’n stel gesinskaartjies vir Bloemskou te wen.
Maak die uitrusting, neem ’n selfie daarby en heg die foto aan by die “Comments” op BloemNuus se Facebook-blad by die Bloemskou-berig wat vandag verskyn. Een wenner sal aangewys en op Facebook aangekondig word.