Daar is net een keer ’n jaar dat die kospotte so gul is, en die diep geure van ’n groot verskeidenheid gebraaide vleis jou so meevoer, dat jy ure lank wil kuier en nog ’n plekkie vind vir die volgende happie.
De Oude Kraal Country Estate and Spa suid van Bloemfontein se gewilde WildsKOSfees word op Saterdag 9 Junie weer aangebied met die beste wildskosgeregte en die heerlikste wyn wat Suid-Afrika se spogwynplase bied.
Marie en Gerhard Lombard van De Oude Kraal werskaf reeds kliphard in voorbereiding vir die fees, wat besoekers van oor die land heen graag bywoon.
Die fees bied nie net ’n geleentheid vir wildskosliefhebbers om by 24 stalletjies verskillende wildsgeregte te proe nie, daar is ook geleentheid om te proe hoe Marie en haar span met beesvleis, skaap, hoender en vis kan toor om elke smaak te pas.
Besoekers aan die fees sal kan proe uit die keur van 22 bekende wynkelders se wyne en sommer op die fees ’n kas of twee kan koop vir later.
Marie is vanjaar aan die stuur van die gourmet-saal, waar BBP-gaste kan aansit vir fynproewershappies wat elk spesiaal gemaak word om by ’n spesifieke wyn te pas.
’n Eksklusiewe wynveiling sal ook in die BBP-saal aangebied word.
Dodo Nyoka, een van die opwindende nuwe kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf, gaan gaste vermaak.
Hy het bekendheid verwerf in die tweede seisoen van die TV-reeks Die Kontrak.
Saam met die heerlike vermaak, kos en wyn, sal lekker aktiwiteite vir oud en jonk ook aangebied word, soos wildritte, buitelugspeletjies en begeleide natuurwandelings.
Kaartjies vir die BBP-saal kos R1 000 en bied toegang tot die fees, asook die kos-en-wynsessie en wynveiling.
Gewone toegangskaartjies wat toegang tot die fees bied met alle wildsgeregte en bykos, sowel as ’n proe-glasie en toegang tot die wynstalletjies, kos R595.
Kaartjies vir kinders van sewe tot 12 jaar oud kos R100, en kinders jonger as sewe jaar kry gratis toegang.
Bespreek bywoning op De Oude Kraal se webwerf, skakel 071-679-6596 of stuur ’n e-pos na info@deoudekraal.com.
Kaartjies vir die fees is ook beskikbaar by: Crazy Daisy in Fleurdal Mall; die De Oude Kraal Plaaswinkel in Curielaan 123; die Delta-drankwinkel in Pres. Reitzlaan in Westdene; en by Daisy & Co by Prellerplein.
BloemNuus is die gedruktemediaborg van De Oude Kraal se WildsKOSfees.