Kuierfees, rugby wag by stadion

Besoekers kan nou weer in groot getalle gaan rugby kyk en Cheetahs-rugby maak dit pret en goedkoop met kaartjiepryse van net R20 vir Saterdag (14/05) se wedstryd.


Besoekers kan nou weer in groot getalle gaan rugby kyk en Cheetahs-rugby maak dit pret en goedkoop met kaartjiepryse van net R20 vir Saterdag (14/05) se wedstryd.

Benewens die rugbywedstryd waarin die Cheetahs die Haaie om 14:30 pak, gaan daar sommer nog baie by die stadion gebeur.

’n Kuierfees begin om 08:00 met ’n kattebak-verkoping en heerlike eetgoed by kostrokkies.

Die Vrystaatse Jeugblaasensemble sal voor en tydens die hoofwedstryd optree.

Die voorwedstryd tussen o.13-spanne van die Laerskool Truida Kestell en die Laerskool Fichardtpark begin om 12:30. Dié twee skole is die alma mater van onderskeidelik die Springbokke Jannie en Bismark du Plessis, Frans Steyn en Bongi Mbonambi (Truida Kestell) en Cheetah-kaptein Ruan Pienaar wat op Fichardtpark op skool was.

Ross van Reenen, uitvoerende hoof van Cheetahs, sê die kostrokke en kattebakverkoping gaan ’n instelling by die Toyota-stadion word wanneer die Cheetahs tuis speel.

“Die dryfveer agter die fees is om die ekonomie te stimuleer en terselfdertyd belangstelling in rugby ’n hupstoot te gee,” sê Van Reenen.

“Enigiemand wat gebruikte ware of nuwe produkte van die hand wil sit, is welkom om aan die kattebak-verkope deel te neem. Enige items en produkte – van speelgoed tot klere – kan verhandel word. Ongelukkig sluit dit nie lewende hawe in nie.”

Kaartjies vir die wedstryd is by www.ticketpro.co.za beskikbaar.

Rugbygangers moet ’n inentingsertifikaat of ’n negatiewe Covid-19-toets toon om tot die stadion toegelaat te word. Besoek www.cheetahs.rugby vir meer besonderhede.

Besprekings vir die gratis kattebak-verkope kan gedoen word deur 051-407-1701 te bel of ’n e-pos na chantall@fsrugby.co.za te stuur. 
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.