Kultuurorganisasies vat hande om Ou Presidensie in Bfn op te knap

Ná talle vergaderings word daar nou vordering gemaak in die samewerking tussen verskillende organisasies en die Vrystaatse departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie in ’n poging om die Ou Presidensie vir wie dié departement verantwoordelik is


Ná talle vergaderings word daar nou vordering gemaak in die samewerking tussen verskillende organisasies en die Vrystaatse departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie in ’n poging om die Ou Presidensie vir wie dié departement verantwoordelik is, op te knap.

Dit kom ná ’n berig in Bloemnuus op 7 Julie en op sosiale media oor die uiterse verval van dié museum in Bloemfontein.

Barry Müller, projekbeampte van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), sê dié organisasie is dankbaar vir die R50 000 wat die departement bewillig het vir herstelwerk aan die Ou Presidensie.

Die FAK, die Erfenisstigting, AfriForum, die VF Plus, die DA en die Vriende van die Ou Presidensie het talle vergaderings met die departement gehou en ’n memorandum vir samewerking is opgestel.

“Ons is dankbaar vir die geld wat beskikbaar gestel is, maar dit is slegs ’n gedeelte van die geld wat benodig word vir fase een van die restourasiewerk aan dié historiese gebou.”

Volgens argitek Anton Roodt se verslag word die herstelwerk aan die dak van die Ou Presidensie op R91 000 beraam.

Die FAK, Erfenisstigting en ander partye het reeds ’n geldinsamelingsprojek begin vir die eerste fase van die herstelwerk en meer as R5 000 is reeds ingesamel.

“Dit is nou waar ons lede van die publiek vra om betrokke te raak en ons te help om ons kultuurskatte te bewaar en te beskerm,” sê Müller.

Die departement het by aanvanklike vergaderings aangedui dat daar geen geld in die begroting is om die nodige instandhoudingswerk te doen nie, maar het beloof om te kyk of geld daarvoor gekry kan word.

Roodt was verantwoordelik vir die herstel van die dak in 2012 en sê in ’n verslag dit is duidelik dat instandhoudingswerk soos wat hy voorgestel het, nie die afgelope paar jaar gedoen is nie.

Die plafonne en mure binne die museum het waterskade opgedoen.

Müller sê lede van die publiek wat ’n bydra tot die bewaring van Suid-Afrika se erfenis wil maak, kan die FAK se webtuiste besoek by fak.org.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.