Inskrywings vir Bloemskou se afdeling vir kreatiewe handwerk en kuns sluit op Donderdag 14 Maart.
As jy kreatief of kunstig is, lekker kan bak of mooi kan hekel, borduur of brei – dan nooi die personeel by Bloemskou jou om jou talent te kom wys en deel.
Volgens Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoofbeampte van Bloemskou, is almal welkom om in te skryf.
“Of jy nou eers begin en of jy ’n kenner is, of jy op skool is of ’n senior burger – daar is ’n klas vir elkeen.”
Belangstellendes word jaarliks genooi om hul kreatiewe handwerk, kuns en gebak by Bloemskou se afdeling vir kreatiewe handwerk in te skryf, vir die jaarlikse skou wat vanjaar van 25 April tot 4 Mei in Bloemfontein plaasvind.
Die Bloemskou se afdeling vir kreatiewe handwerk is die grootste van sy soort in Suid-Afrika en groei jaarliks.
Prinsloo sê daar was verlede jaar 2 067 inskrywings in die afdeling.
“Kinders wat privaatonderrig ontvang of in skoolverband inskryf, borrel van opwinding en trots gedurende skoutyd en kan nie wag om vir familielede hul kunswerke te wys nie. Dan is daar ook ’n geleentheid vir volwassenes om te wys oor watter talente hulle beskik. As ’n familieskou het Bloemskou die platform geskep waar een en elk kan deelneem aan die pret”.
Prinsloo sê Bloemskou bied ook aan kinders die geleentheid om te leer oor die handwerk en kunste wat al amper aan die uitsterf is. Soos die skoue van ouds, bied die afdeling die geleentheid aan oud en jonk om hul inskryf.
“Ons ontvang jaarliks inskrywings van oor Suid-Afrika heen. Breiwerk, gebak, gebottel, hekelwerk, laslap en kwiltwerk, masjienwerk, stokperdjies, houtwerk, suikerkuns, teddiebere, borduurwerk, weef- en spinwerk, blomme-rangskikking, skrif, kuns, amateur-fotografie, skolegebak vir laerskoolkinders, kookkuns vir hoërskoolleerlinge, skolenaaldwerk – alles waaraan jy kan dink”.
Alle klaslyste en inskryfvorms is op bloemskou.co.za of by die Bloemskou-kantoor beskikbaar.