Die kunstenaars Margaret Linstrom, Mariaan Kotze en Eldri van Straaten kyk na inskrywings van die eerste kinderkuns-kompetisie wat die Pop Up-ateljee by Prellerplein aangebied het.Foto: Verskaf


’n Nuwe kunsgalery wat plaaslike kuns wil bemark en werksessies aanbied, het op 12 Junie op Prellerplein oopgemaak.

Die Pop Up-ateljee is die geesteskind van kunstenaars Mariaan Kotze, Margaret Linstrom en Eldri van Straaten.

Van Straaten is ’n jong, ontluikende kunstenaar wat skilder­werksessies aanbied.

Kotze sê die ruimte in Prellerplein, bokant Caramello’s, is net tydelik.

“Ons hoop en vertrou dat die Pop Up-galery tot ’n volwaardige, permanente galery sal groei,” sê sy.

“Met die publiek se ondersteuning kan ons dit regkry.”

Hul doel is om ’n interaktiewe ruimte te skep waar kreatiwiteit en gemeenskap hand aan hand gaan.

Reeds op hul eerste byeenkoms het 18 kunstenaarsvriende saamgekom om idees oor kunsbemarking te bespreek.

“Ons doelwit is om hierdie galery ’n kunsmiddelpunt te maak waar mense in die lekker sonnige ruimte kan vertoef en waar kreatiewe mense bymekaar kan kom.

“Ons bied ’n groot verskeidenheid kunswerke te koop aan.”

Die galery het weggespring met ’n uitstalling vir kinders onder die ouderdom van tien jaar.

Die jong kunstenaars se prente het ingestroom, en vier kinders het pryse gewen. Dié pryse is deur Signo Draw geborg.

Toekomstige planne sluit tema-uitstallings, saam-skildersessies met verskeie kunstenaars en verskeie werksessies in.

Vir meer inligting, kontak Van Straaten by 082-229-8135 of Kotze by 083-245-2424.

You need to be Logged In to leave a comment.