’n Uitstalling waarvoor kunstenaars gevra is om werke onder die tema “kattekwaad” te skep open Saterdag (30/07) in Co-op Gallery in Dan Pienaar Mall.
David Griessel, mede-eienaar van die galery, sê dit is lekker dat dié tema so skeppend uitgebeeld is.
“Die meeste van die werke is waarlik ’n viering van katte en al die maniere waarop hulle ons lewe beïnvloed en verbeter.”
Kunstenaars wat uitstal, is Piet Grobler, Alida Bothma, Linki Lutz, Willemien Kruger en David self.
David, ’n gebore Bloemfonteiner, het al in talle kommersiële galerye, asook drie Suid-Afrikaanse museums, uitgestal. Hy en sy werk het boonop al in Caylus, Frankryk, ’n draai gaan maak. Hy beeld katte as “trickster spirits” uit wat die maan steel, en fokus op hul misterieuse aard.
Willemien, David se mede-galery-eienaar, is ’n binnehuisversierder met ’n liefde vir letters en kalligrafie. Sy het saam met haar kinders gewerk om speelse katkarakters uit te beeld en kombineer kalligrafie en letterkuns met haar tekeninge.
Alida se kuns word dikwels deur gedagtes, prosa, poësie en die Woord geïnspireer. Vir die uitstalling het sy multimediawerke gelewer wat die sagte en vriendelike kant van katte uitbeeld.
Linki is ’n bekroonde skrywer en illustreerder van Kaapstad, met waterverf en ink haar hoofmediums. Dit is hierdeur dat sy katte in magiese en fantasiewêrelde uitbeeld.
In sy uitbeelding vertel Piet stories. Hy is ’n bekroonde skywer, kunstenaar en illustreerder wat al meer as 70 boeke geïllustreer het. Met waterverf beeld hy katte speels uit in werke met titels wat almal stories vertel.
David sê Piet se los tekenstyl is baie spontaan en humoristies.
Johan Cromhout sal die uitstalling Saterdag om 11:00 met ’n kort praatjie open.