Lede van die feeskomitee is van links Mark Dobson, Corneli van der Berg, Atie Kamper, Lucas Swart en Michael Garbett.

Lientjie Mentz

Daar was reeds vroeg op die eerste dag van die Vrystaat-Kunstefees ’n heerlike stemming by die Minimark op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat.

Die minimark wat vandag begin, duur nog tot Saterdag (16/07).

Sowat 120 stalletjies is binne die Callie Human-sentrum sowel as voor dié sentrum, die George du Toit-gebou en die eksamensentrum geleë.

As jy honger of dors op die feesterrein rondloop, is dit net jou eie skuld. Daar is iets vir elkeen se smaak, van heerlike koffie en mikro-bier tot van die land se spoglandgoedwyne by Vin Do se stalletjie in die Callie Human. Daar is eetgoed wat wissel van roosterkoeke en pannekoek, tot gerolde pizzas en baie meer. Daar is ook springkastele en ander pret vir die kinders. Die mark is elke dag van 09:00 tot 19:00 oop met die Summerwood-restaurant in die eksamensentrum wat elke aand tot 20:00 oop is.

Vanoggend met die eerste vertoning van Liewe Heksie en die Rolskaatse, het die kleingoed sommer lekker geskater vir dié geliefde karakter vertolk deur Margit Meyer-Rödenbeck. Deon van Zyl het seker gemaak dat Karel Kat, Koning Rosekrans en die Geel Heks ook ’n draai op die stel kom maak. Liewe Heksie en die Rolskaatse is ook van 13 tot 16 Julie elke oggend om 10:00 te sien en kaartjies kos R100. Begin sommer die oggend met dié oulike vertoning.

Die UV-dramastudente vertel in The Dressing Room van die kaskenades agter die verhoog by ’n gemeenkapsteater-musiekblyspel. Die vertoning is 13 Julie om 19:00, 14 Julie om 15:00, 15 Julie om 19:30 en 16 Julie om 13:00 in die Wynand Mouton-teater.

Vir iets heeltemal anders, gaan kyk na POP – ’n multidissiplinêre dansproduksie wat handel oor geestesgesondheid. Daar is vertonings vanaand om 18:00, 13 Julie om 11:00 en 14 Julie om 19:30 in die Scaenateater.

Nog ’n lekker produksie wat die lagspiere gaan prikkel, is Hoe later, hoe kwater. Dié komedie is vanaand om 18:30, 13 Julie om 15:00 en 14 Julie om 18:00. Natuurlik is daar ook die debuutvertoning van Laerskool Noord met Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm en Ilne Fourie in die Kopanong-ouditorium (Kovsiekerk). Die vertonings is 12 Julie om 19:00, 13 Julie om 15:00, 14 Julie om 19:00, 15 Julie om 18:30 en 16 Julie om 15:00.

Op die Minimark se feesprogram is daar ook ’n litirêre item met Francois Smith en Zarine Roodt wat op 15 Julie om 08:30 ’n kursus aanbied oor hoe om ’n memoire te skryf. Kortpad na memoire volg kort op Zarine se memoire ’n Dagreis ver wat onlangs verskyn het.

Daar is ook drie vertonings in die Aasvoëlklub wat deel van die fees vorm. Dit is die Mini Abba-vertoning op 14 Julie om 19:30, Radio Waves op 15 Julie en Die Legendes van Afrikaanse Musiek met Cézanne Yzelle en Mario Lategan op 16 Julie.

Kyk na die program op die webwerf vrystaatkunstefees.co.za en kry kaartjies by die feesterrein by Hek 5 (besoekersentrum) uit DF Malherberylaan. Toegang tot die terrein kos R20 en kan ook op die webwerf webtickets.co.za gekoop word. Besoekers moet volgens UV-reëls ’n inentingsertifikaat by toegang toon. Alternatiewelik kan besoekers Covid-toetse  by die toegangshek laat doen.

Die hooffees met ’n groot verskeidenheid produksies, word van 2 tot 8 Oktober op die Kovsiekampus aangebied.

You need to be Logged In to leave a comment.