Kunstefees skud vere ná twee jaar reg

Hoewel die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vanjaar die eerste keer in twee jaar as ’n volwaardige fees in Oudtshoorn voortgaan, gaan dit ’n “anderste” fees wees.


Hoewel die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vanjaar die eerste keer in twee jaar as ’n volwaardige fees in Oudtshoorn voortgaan, gaan dit ’n “anderste” fees wees.

Só sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, wat die fees aanbied.

Die nuus dat die KKNK, die oudste Afrikaanse kunstefees, ná twee jaar weer kan voortgaan, is Donderdag (27/01) bekend gemaak.

Die fees sal van 29 Maart tot 3 April aangebied word.

Die program word einde Februarie aangekondig.

“Dit is ’n uitdaging en daar is beperkinge om die fees so veilig moontlik aan te bied,” sê Theart.

“Streng toegangsbeheer sal by lokale geld. Verder beplan ons steeds ’n markterrein en die gebruiklike musiekkonserte in die buitelug.”

Feesgangers moet teen Covid-19 ingeënt wees, maskers dra en ander maatreëls toepas. Ingevolge regulasies sal lokale net 50% vol wees.

“Kaartjies vir vertonings word weens veiligheidsmaatreëls beperk. Indien feesgangers eerste kans wil hê om te bespreek, kan hulle nou by ons Vriende van die KKNK-klub aansluit. Ons stel kaartjies eerste aan klublede beskikbaar.”

Belangstellendes kan Daleen Witbooi by info@kunste.org.za kontak vir inligting oor die klub.

  • Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê dié Kaapse fees gaan van 27 April tot 1 Mei in die Kunstekaap voort.– Leatitia Pople
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.