Kunstefees volstoom vooruit

Sedert omwentelinge in April 2021 begin het, is die leisels van die Vrystaat Kunstefees nou weer in die hande van twee gebore Vrystaters, Corneli van den Berg en Michael Garbett.


Sedert omwentelinge in April 2021 begin het, is die leisels van die Vrystaat Kunstefees nou weer in die hande van twee gebore Vrystaters, Corneli van den Berg en Michael Garbett.

Dié aankondiging kom kort voor die eerste deel van vanjaar se fees, wat in twee dele gehou sal word.

Die voormalige feesdirekteur, Ricardo Peach, het in Maart 2021 na Australië terugkeer, en op sy aanbeveling het die bestuursraad van die fees Van den Berg, sedert 2017 die koördineerder van die Vrystaat Literatuurfees, na fees­direkteur bevorder. Haar aanstelling is nou permanent, terwyl Garbett van programbestuurder na artistieke direkteur bevorder is.

Van den Berg en Garbett is Bloemfonteiners en oud-Kovsies.

Sy het in 2015 ’n meestersgraad in Kunsgeskiedenis en Beeldstudie behaal, met Garbett wat in 2014 ’n honneursgraad in Drama en Teaterkunde behaal het.

Hy werk sedert April 2015 heeltyds vir die kunstefees, aanvanklik as administratiewe assistent en Vrynge-koördineerder, en sedert 2020 as programbestuurder. In 2016 en 2017 het Van den Berg as ’n projekbestuurder vir verskeie gemeenskapsprojekte gewerk, hoofsaaklik aangebied in samewerking met die Program vir Innovasie in Kunsvormontwikkeling (Piko), ’n program van die Vrystaat Kunstefees en die Universiteit van die Vrystaat (UV). Sy was sedert September 2017 koördineer van die boekefees.

Die twee feesdirekteure vorm ’n gedugte span.

“Ek vertrou Michael ten volle,” sê Van den Berg.

“Hy werk altyd met die vooruitgang en volhoubaarheid van die Vrystaat Kunstefees as doel. Boonop het hy ’n fyn oog vir topgehalte-teaterproduksies. Vanjaar se feesgangers het baie om na uit te sien.”

Michael beklemtoon in sy visie vir die fees onder meer een spesifieke doelwit.

“Vir 2022 is dit belangrik om nuuskierigheid aan te wakker. Die fees benodig nuuskierige kunstenaars en nuuskierige gehore.”

Ná 20 jaar van huisvesting in die Volksblad-gebou, moes die kunstefees in 2022 ’n nuwe hoofkwartier vind. Die feesspan is opgewonde oor sy nuwe tuiste by die Prellerplein-inkopiesentrum en het reeds daar projekte aangebied.

Die feesspan is nou voluit aan die werk om ná twee jaar weer geleenthede te kan aanbied.

Die Vrystaat Kunstefees-minimark word vir 12 tot 16 Julie op die hoofkampus van die UV beplan, asook teaterproduksies. Hou Bloemnuusdop vir meer inligting oor dié opwindende produksies.

Vir meer inligting oor die minimark, stuur ’n e-pos na atie@vrystaatkunstefees.co.za of ’n WhatsApp na 063-584-4379.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.