Namate die Vrystaat Kunstefees die afgelope 24 jaar gegroei het, het die Kunstemark ook ontwikkel en gegroei.
Van enkele stalletjies in 2000, spog die Kunstemark met meer as 300 stalletjies in 2024.
Atie Kamper, organiseerder van die jaarlikse Kunstemark, sê die kosstalletjies bied watertand-lekker kos.
Ou bekende kosstalletjies is terug en daar is ook nuwe unieke vegetariese geregte.
“Vat jou gunsteling-happie en sappie en kom sit by die oop verhoë tussen die buitestalletjies wat dwarsdeur die dag gratis vermaak gaan bied.”
Daar sal weer binnestalletjies in die Callie Human-saal, en oorkant die straat by die eksamelokale wees.
“Die verskeidenheid is groot en die kaal kol aan jou die muur in die woonkamer kan dalk gevul word met ’n mooi skildery wat jy op die Kunstemark kan koop, of ’n mat vir die sitkamervloer. Daar is seker ook nog plek in die koskas, en die klerekas en skoenelaai. Die nuwe oorbelle, waarna jy al ’n jaar lank soek, gaan jy ook daar kry.”
Kamper sê die gewilde Mebala-balaprojek is weer terug. Daar is werksessies vir jonk en oud. Dit sluit onder meer ’n sessie oor die eeueoue Japanese Sashiko-borduurtegniek in.
“Gee aan jou jeans ’n tweede lewe. Leer hoe om wolblomme te maak, en armbrei ’n kombersie. Daar is tot ’n werksessie wat gaan wys hoe om arms en hande reg te gebruik terwyl jy hekel of brei.
“Vir kinders is daar ’n hoekie waar hulle kan tolletjiebrei, sandkuns doen of ’n eie bottelliggie te verf.”
Kom kuier by die Vrystaat Kunstefees se kunstemark van 2 tot 6 Julie van 09:00 tot 20:00.
Kosstalletjies sal tot laat oopbly.
Rig navrae aan Kamper by 082-859-2393.