Kunstenaars snoer werk hier saam

Twee plaaslike kunstenaars, Kobus Lotz en Mariaan Kotze, gaan Vrydag (26/05) die eerste keer hul talent en kreatiwiteit in een uitstalling saambring.


Twee plaaslike kunstenaars, Kobus Lotz en Mariaan Kotze, gaan Vrydag (26/05) die eerste keer hul talent en kreatiwiteit in een uitstalling saambring.

Die uitstalling met die tema “Waar twee wêrelde ontmoet” in Langenhovenpark vier die uiteen­lopende, maar ook komplementerende aard van hierdie twee kunstenaars se werk.

Die uitstalling open Vrydag en die kuns kan ook Saterdag en Sondag besigtig word.

Kobus Lotz is ’n bekende Bloemfonteinse kunstenaar wat ook kunsklasse aanbied. Hy het in 2012 begin skilder nadat hy baie jare lank sy onderneming in die stad bedryf het.

Lotz gebruik hoofsaaklik olieverf, maar eksperimenteer ook met beeldhouwerk en verskillende drukprosesse. Sy werk het tematies wye omvang – van portret­studies en straatlandskappe tot kontemporêre stillewes.

Sy kunswerke het al die aandag van kunsliefhebbers in Suid-Afrika en in die buiteland getrek.

In 2020 het Lotz weens persoonlike omstandighede besluit om op te hou skilder, maar in 2022 het nuwe inspirasie hom weer die kwaste laat opneem.

Ná ’n lang afwesigheid is Lotz opgewonde om sy nuwe werk aan die publiek te toon.

Hy beskou sy nuwe werk as ’n nuwe hoofstuk in sy kuns en is opgewonde om die reaksie van die publiek hierop waar te neem.

Kotze is ’n gevestigde kunstenaar wat reeds sedert 1991 haar lewe aan die beoefening van kuns wy.

Sy het haar nasionale diploma in Beeldende Kuns in 1990 verwerf.

Kotze het in ’n kunstenaarshuis grootgeword en is deel van die bekende Kotze-kunsfamilie.

Die elemente in haar werk trek die kyker in en nooi hom of haar uit om die wêreld te verken wat Kotze skep.

Dié kunswerke is uniek en word deur die simboliese aard daarvan gekenmerk. Dit voer die kyker mee na ’n wêreld van fantasie.

In ’n wêreld waar negatiwiteit aan die orde van die dag is, bied Kotze se kuns verfrissende ontsnapping.

As kunstenaar bly Kotze voortdurend die grense van haar vak verken en eksperimenteer met nuwe tegnieke en media om haar kuns tot lewe te bring.

Vir Kotze is kuns nie net ’n beroep nie, maar ’n lewenswyse.

Lotz en Kotze is opgewonde oor die gesamentlike kuns­uitstalling, wat beloof om ’n unieke ervaring te wees.

Die werke gaan in ’n informele, huislike omgewing uitgestal word.

Bel Kobus by 082-770-5337 of Mariaan by 083-245-2424 vir verdere inligting en volg hulle op die sosiale media vir die nuutste verwikkelinge.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.