Die Vrystaatse Kunswedstryd in Bloemfontein keer ná drie jaar terug met ’n nuwe baadjie en voorsitter.
Danré Strydom het die leisels oorgeneem by Kobie Colditz, wat dié tweejaarlikse geleentheid 16 jaar lank meesterlik bestuur het.
Benewens nuwe afdelings vir voordrag en toneel behels die nuwe baadjie ook aparte datums vir die aanbieding van die verskeie afdelings.
Voordrag en toneel vind van 16 tot 22 Mei by die Laerskool Brandwag plaas, en die musiek van 10 tot 19 Augustus in die Odeion op die Kovsiekampus.
Strydom sê die verandering is nodig omdat dit logisties en wat infrastruktuur betref onmoontlik is om soos voorheen die twee afdelings in dieselfde twee weke aan te bied.
Die inskrywings het reeds gesluit.
Die beoordelaars vir voordrag en toneel is Chanmari Erasmus (gr. 1 tot gr. 3), Schoemé Grobler (gr. 4 tot gr. 7) en Niel van Niekerk (gr. 8 tot gr. 12, ope afdeling en dansdrama).
Die inskrywings vir die musiek open op 1 Mei en sluit op 1 Julie.
Soos voorheen sluit die afdelings vokaal (van solo’s tot kore), orkeste, orkesinstrumente, klavier, orrel en ligte musiek in.
- Vir meer inligting kan vskw.co.za besoek word of ’n e-pos na drama@vskw.co.za of musiek@vskw.co.za gestuur word.