Die heengaan van Kobus Kotzé (86) op Maandag 16 Junie laat ‘n groot leemte in die kunswêreld.
Hy is oorlede nadat hy twee weke in ‘n hospitaal in Bloemfontein behandel is. Hy sou op 14 Julie 87 jaar oud word.
“Ons het al honderde boodskappe van mense gekry wat hul meegevoel met die familie betuig. Mense sê hy was ‘n nederige, aangename en opregte mens, en dis hoe ek hom ook beleef het,” sê sy seun, Floris.
“Daar is letterlik derduisende van sy skilderye oor die wêreld heen.”
Hy sê daar is selfs van sy pa se skilderye in die Amerikaanse Ambassade.
Floris, wat ‘n kunsgalery in Bloemfontein het, sê hy het sedert 1997 nou saam met sy pa gewerk.
“Dit was so ‘n voorreg.”

Kobus en sy vrou, Joe, met wie hy 60 jaar getroud was, was in baie opsigte beste maats. Floris sê hulle het jare lank saam hul stokperdjie, skilder, beoefen en was altwee ewe lief vir tuinmaak.
Kobus het in sy jongdae op ‘n plaas in die Aliwal-Noord-distrik geboer.
“Hy skilder reeds van 1967 af,” vertel Floris. “Met die ontstaan van kunstefeeste, soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, het hy na almal gegaan. By die KKNK was hy elke jaar, en hy het nie een Vrystaat Kunstefees in 26 jaar gemis nie.
“In die jare van die Volksblad-kunsmark in die roostuin in Bloemfontein het hy en my Ma om 04:00 in Aliwal gery om op die mark te kom uitstal. Later het dié mark so gewild geraak dat hulle sommer in die motor in die park geslaap het om ‘n goeie plekkie op die mark te kry.”
Floris sê sy pa het gereeld op allerlei markte oor die land heen uitgestal en was bekend daarvoor dat hy op amper elke kunstefees geskilder het.
“Sy liefde vir natuurtonele kom van sy liefde vir die natuur. Sy gunsteling-boom was ‘n bloekomboom, en hy het graag rooidakhuisies en plaastonele geskilder.
“Hy het geglo ‘n mens moet nooit ophou groei nie. Jy kan by elkeen iets leer.”
Benewens Floris is die egpaar se dogter Mariaan ook ‘n Bloemfonteinse kunstenaar. Sy sê haar pa was ‘n stil, sterk man “met ‘n lekker ondeunde kant”.
“My pa was altyd op ‘n diep vlak betrokke by ons as familie,” sê sy.
“Hy was ‘n regte maat vir my ma en hy het haar altyd met baie respek behandel. My pa was regverdig,
eerlik, lojaal, hardwerkend en passievol oor sy kuns en tuin.”
Joe skryf op Facebook: “Ons wil elkeen van sy kliënte, vriende en aanhangers bedank vir jul onder-
steuning. Elke aankoop, elke kompliment en interaksie het hom oor die jare heen aangemoedig om sy kunsloopbaan met passie uit te leef.
“Derduisende skilderye uit sy hand hang in huise oor die werêld heen. Kobus was ‘n nederige mens en het dit waardeer as iemand een van sy skilderye koop.
“Dis ongelooflik hoe dinge so vinnig gebeur, twee weke gelede was hy sterk en vrolik, hy het griep gekry, binne ‘n dag was hy gedisoriënteerd en nou is hy weg. Ons waardeer almal se ondersteuning en liefde.”
Joe en Kobus het vyf kinders gehad, waarvan Fida van Wijk op 41-jarige ouderdom oorlede is. Die ander is Hanlie en Jaco Kotzé. Jaco is die enigste wat nie in die kunsbedryf werk nie. Hulle het 11 kleinkinders.
‘n Gedenkdiens word op Vrydag 20 Junie om 11:00 in die Gereformeerde kerk Bloemfontein-suid in Gardeniapark gehou.
You must be logged in to post a comment.