Bloemfonteiner Miné Kleynhans (34) is die algehele wenner van vanjaar se nasionale Sasol New Signatures-kunskompetisie, met prysgeld van R100 000.

Miné, ’n projekbestuurder by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se kunsgalery, is op Woensdag 4 September as die wenner aangewys. Haar installasiekuns Meditations on Resentmentis uit 1 013 inskrywings van oor Suid-Afrika heen as die wenner aangewys. Altesaam 137 kunswerke was deel van die uitstalling van gekeurde werk.

Mine Foto:

Meditations on Resentment stel ’n intieme persoonlike ritueel voor wat die ervaring en uitdrukking van wrokke uitbeeld. Die kunswerk bestaan uit ’n blink oppervlak met duike, ’n borsel met ’n skerp punt en ’n bakkie sand.

Die ritueel vra van die betragter om voor die kunswerk te kniel en die sand oor die oppervlak te vee. Hulle moet dan met die skerp kant van die borsel hul wrokke in die sand skryf voordat die sand in een van die openinge van die koper-oppervlak gevee word. Kleynhans sê sy het in 2019 ook werk vir die Sasol New Signatures-kunskompetisie ingeskryf.

“Die kompetisie is belangrik omdat dit so ’n groot nasionale reikwydte het,” sê sy oor haar aanwysing as die wenner. Sy sê sy het die spesifieke kunswerk geskep omdat sy belangstel in die uitdrukking van onderdrukte, wegge­steekte dinge wat mense se maniere van dink en emosionele patrone vorm of laat vorm.

“Met die skep van hierdie kunswerk was ek betrokke by situasies en besprekings waarin wrokke beklemtoon is.

“Dit is ’n emosionele toestand wat moeilik is om te erken, en mense deel dit nie maklik openlik nie.”

Kleynhans sê een van die grootste invloede in haar lewe is die kunstenaar Willem Boshoff.

“Ek was bevoorreg om saam met hom te werk en oor talle jare te sien hoe hy werk.”

Miné Kleynhans (links) en haar kunswerk Meditations on Resentment.Foto: Verskaf

Die naaswenner in die kompetisie is Tandabantu Nathaniel Jongikhaya Matola (28) van die Oos-Kaap, en hy wen R25 000 vir sy werk Ukuncikelela. Vyf meriete-wenners, wat elk R10 000 ontvang, is ook aangewys.

Die wenners en finaliste se kunswerke word van 5 September tot 3 November in die Pretoria-kunsmuseum in Arkadiapark, Pretoria, uitgestal.

You need to be Logged In to leave a comment.