Kunswerke vlieg om kinders in Engo-jeugsorgsentrums te help

Gaste wat Vrydag (12/05) en Saterdag Engo se funksie ten bate van sommige Engo-jeugsorgsentrums by Leopards & Lace bygewoon het, se harte en beursies was wyd oop om geld aan dié sentrums te skenk en kinders so te help.


Magde-Mari Venter saam met Siyabonga Gans en die skildery wat sy vanjaar gekoop het. Foto: Lientjie Mentz

Gaste wat Vrydag (12/05) en Saterdag Engo se funksie ten bate van sommige Engo-jeugsorgsentrums by Leopards & Lace bygewoon het, se harte en beursies was wyd oop om geld aan dié sentrums te skenk en kinders so te help.

Gaste het altesaam R142 000 oor die twee aande opgedok vir kunswerke wat die kinders van Engo se Amor-, Gardenia-, Esperanza- en Gladstone-jeugsorgsentrums gemaak het.

Kinders het kunswerke met die tema “Meesterstuk” gemaak wat deur Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers opgeveil is.

Kunswerke van die talentvolle Siyabonga Gans (gr. 8) van die St Michael School en ’n kunsstudent van Nellie Brisley, is vanjaar weer vir goeie bedrae opgeveil.

Magde-Mari Venter het R14 000 betaal vir ’n skildery van drie kindertjies wat Siyabonga geskilder het.

“Ek het verlede jaar ’n soortgelyke skildery van Siyabonga gekoop en moes net die nuwe een ook kry om by my versameling te voeg,” het sy op die geselligheid gesê.

Nog een van Siyabonga se skilderye is vir R11 000 verkoop.

Die tema van “Movie Night” het gaste in die stemming gekry vir lekker kuier.Foto: Lientjie Mentz

Mare en Clifford Human het ’n kunswerk van ’n vrou in warm wintersklere wat een van die kinders geskilder het, vir R7 000 gekoop. Die skildery is gemaak deur ’n 18-jarige kind. Dit is volgens die leerling ’n skildery van ’n vrou wat in die leegtes in staar. “Al is daar koue, kyk sy vorentoe en soek nuwe geleenthede deur die storm.” Haar boodskap aan die kopers is om te bly glo in die Here. “Maak hom jou eerste liefde soos die Here sê – Agapé is ek vir julle.”

Marinique du Plessis, maatskaplike werker van Engo en organiseerder van die geselligheid het dié aand, aangekondig dat R20 000 uit die verkope van die skilderye aan ’n fonds vir Siyabonga geskenk word.

Mare en Clifford Human met die kunswerk waarvoor hulle R7 000 opgedok het. Foto: Lientjie Mentz

Kinders van dié jeugsorgsentrums het ’n vertoning aangebied met die tema “Movie Night” wat almal heerlik laat wieg en saamklap het op liedjies soos “Grease Lightning” en “Special Star”.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.